Central SA
Vrystaat: 8-jarige verdwyn spoorloos voor skool─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:11 Fri, 16 Jan 2026
Die Vrystaatse polisie versoek gemeenskapshulp om ’n vermiste kind op te spoor wat reeds langer as drie dae vermis word.
Naledi Ramaisa (8), woonagtig in Tambo, Matwabeng, op Senekal, is Dinsdag (16/1) laas gesien. Sy is na bewering by haar niggie agtergelaat op die dag van haar verdwyning, maar is nie weer gesien nie.
Mmami Msibi, Naledi se tannie, sê sy het om 07:00 die huis verlaat om werk toe te gaan en haar dogter (14) en Naledi by die huis gelos, sê sers. Sinah Mpakane, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Toe sy om 19:00 terugkeer, het haar dogter haar meegedeel Naledi het kort nadat sy werk toe is, die huis verlaat en is nie weer gesien nie. Msibi en inwoners het na Naledi begin soek by die bure, maar kon haar nie opspoor nie.”
Nog pogings om haar op te spoor, was onsuksesvol en die polisie is ingelig. Naledi was glo ook nooit daardie dag by die skool nie.
Enigiemand met inligting wat die polisie kan help om Naledi op te spoor, kan Senekal se polisie by 057 910 8201 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.
Bejaarde man
In die Noord-Kaap word ’n bejaarde man reeds langer as ’n week vermis nadat hy glo sy buurman besoek het, maar nie weer teruggekeer het huis toe nie.
Die Batlharos-polisie het met ’n soektog begin nadat Ontlametse Matsime (77) Vrydag (9/1) as vermis aangemeld is, sê sers. Merapelo Pilane, provinsiale polisiewoordvoerder.

Ontlametse Matsime. Foto: SAPD
Hy sê die polisie is bekommerd oor die veiligheid en welstand van inwoners weens die groot getal vermiste persone wat aangemeld word.
Ten tye van sy verdwyning het Matsime ’n vlootblou T-hemp, grys langbroek en swart Swagger-tekkies aangehad.
“Ons wil ook die publiek daaraan herinner dat daar geen wagtydperk is om ’n persoon as vermis aan te meld nie,” sê Pilane. “Tyd is belangrik in hierdie gevalle, en vroeë aanmelding kan ’n beduidende verskil maak.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

