On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Burgemeester, speaker van Sol Plaatje-munisipaliteit moet regskoste betaal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:41 Sat, 17 Jan 2026

Burgemeester, speaker van Sol Plaatje-munisipaliteit moet regskoste betaal | News Article
Die Sol Plaatje-munisipaliteit. Foto: OFM

'n Politieke party sê ’n Noord-Kaapse munisipaliteit moet aanspreeklik gehou word omdat die munisipale leiers die raad mislei en onwettig opgetree het.

Die DA voer aan die saak dui op swak bestuur en daar moet opgetree word teen diegene wat verantwoordelik is vir besluite wat regsprosesse en dienslewering ondermyn het.

Stappe moet gedoen word teen Martha Bartlett, uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit, en Dipuo Peters, speaker, ná die onwettige skorsing van Thapelo Matlala, munisipale bestuurder, sê Chris Phiri, DA-raadslid. 

Die party beweer hulle het die raad opsetlik mislei in die proses wat tot Matlala se skorsing gelei het.

Terug werk toe

“Matlala het Woensdag (14/1) die hofsaak in die Kimberleyse hooggeregshof gewen. Die hof het gelas hy moet toegelaat word om met onmiddellike effek terug te keer werk toe. Die hof het ook beslis die burgemeester en speaker is verantwoordelik vir Matlala se regskoste.” 

Phiri sê die DA het ’n belangrike rol in die saak gespeel deur die raad te lei tot wetlike nakoming en te waarsku teen die gebrekkige tugstappe wat teen Matlala geneem is.

“Regulasies, deursigtigheid en raadsprosesse is geïgnoreer ondanks herhaalde pogings om goeie regsadvies aan hulle te verskaf. In plaas daarvan het die burgemeester en speaker na bewering hierdie waarskuwings geïgnoreer.”

Regskoste  

Die DA het die hof se uitspraak verwelkom en sê dit is ’n verligting belastingbetalers en inwoners hoef nie die regskoste te dek nie. Dit is wel teleurstellend dat ander raadslede wat die skorsing ondersteun het, nie ook aanspreeklik gehou is nie.

Phiri sê die party sal voortgaan om die burgemeester, speaker en alle raadslede aanspreeklik te hou vir die oneer wat hulle die munisipaliteit aangedoen het.

“Beweerde onreëlmatighede wat verband hou met Kapa Koni Investments, asook verkrygingsprosesse wat uitgevoer is tydens die ampstermyn van Busisiwe Mgaguli, voormalige waarnemende munisipale bestuurder, sal ook ondersoek word. Mgaguli is sedertdien skuldig bevind aan bedrog.” 

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.