Central SA
Geen luiperd, maar glo tierboskat dwaal in Bloemfontein─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:33 Sat, 17 Jan 2026
Ondanks uitgebreide soektogte is daar steeds geen tekens van die luiperd wat na bewering Vrydag (16/1) noord van Bloemfontein gesien is nie.
Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling se departementele wildlewe-kenners het oral na die luiperd gesoek. Owerhede bevestig geen bewyse van ’n ontsnapte dier is gevind nie en alle luiperds by nabygeleë fasiliteite is steeds daar.
’n Waarskuwing is Vrydag deur die department uitgereik dat ’n luiperd moontlik ontsnap en in die Glen-omgewing is. Die luiperd is glo gesien in die gebied tussen die Glen-landboukollege en die N1, langs die R30, sê Festy Mfaze, die departement se woordvoerder.

Die tierboskat is glo nie gevaarlik nie. Foto: iStock
“Die ooggetuie is ondervra wat die luiperd glo gesien het. Die dier is later met behulp van foto's as ’n tierboskat geïdentifiseer.”
Mfaze sê tierboskatte is nie gevaarlik vir mense nie, maar inwoners word steeds versoek om waaksaam te bly en enige ongewone waarnemings aan te meld.
Publiek
Inwoners moet hierdie veiligheidsmaatreëls volg as ’n wilde dier gesien word.
- Bly kalm en hou jou afstand: Moenie die dier nader, agtervolg of probeer wegjaag nie, aangesien dit ’n aggressiewe reaksie kan uitlok.
- Beweeg na ’n veilige plek: Bly in jou voertuig met die vensters toe, of beweeg binnenshuis as jy te voet is, en vermy skielike bewegings of harde geluide.
- Hou kinders en troeteldiere binnenshuis: Maak seker kinders en diere is binne en onder toesig totdat die situasie deur die owerhede beoordeel is.
- Rapporteer die waarneming onmiddellik: Kontak wetstoepassers, omgewingsowerhede, wildlewe-kenners of die DBV met duidelike besonderhede soos die ligging, tyd en rigting waarin die dier beweeg het.
- Vermy die verspreiding van gerugte of paniek: Stel ander verantwoordelik persone in kennis, maar moenie onbevestige inligting of spekulasie op sosiale media versprei nie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

