Central SA
Jong man weer voor hof ná ongeluk drie kinders eis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:15 Tue, 20 Jan 2026
Die jong man wat aangekla word in verband met ’n ongeluk wat die lewe van drie kinders op die N8 oos van Bloemfontein geëis het, sal na verwagting Woensdag (21/1) weer in die hof verskyn.
Tristan Kearney (20) staan tereg op aanklagte van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur, versuim om ’n padverkeersteken te gehoorsaam en die oortreding van verkeersregulasies rakende die toegelate aantal passasiers. Hy het die eerste keer op 2 Desember in die plaaslike streekhof verskyn
Sy eerste verskyning was byna elf maande ná die ongeluk. Die saak is uitgestel om die verdediging tyd te gun om die saakdossier te bestudeer.
Ryan Smit (6) en sy niggie Leané van Papendorp (8) is op slag dood in die ongeluk op 24 Januarie op die kruising van die nasionale pad en Krugerlaan oorkant Aljo se Superspar. Ryan se broer, Ayden (8), het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit
Nog ’n kind, Tennique Joubert (6), was tot byna twee weke ná die ongeluk in ’n koma in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein en haar milt moes verwyder word. Sy is ontslaan ná 19 dae van behandeling.
Adv. Allen Simpson, Kearney se regsverteenwoordiger, sê die verdediging sal weereens aansoek doen om uitstel om getuienis deur te gaan en om ondersoek te doen na bydraende en versagtende omstandighede. Hy meen die staat se deskundige-verslag dui daarop albei bestuurders kan aanspreeklik gehou word.
Martin Smit, die broer se pa, het Dinsdag (20/1) gesê terwyl tyd veronderstel was om die wonde te genees, het dit eerder die pyn dieper en ondraagliker gemaak. “My vrou het ’n senuwee-ineenstorting gehad. Ons kan nie meer die pyn en lyding hanteer nie.”

Tennique Joubert. Foto: Facebook/Dr. CF Visser Primêre Skool
Volgens Smit sal hy Woensdag in die hof wees nadat die aanvanklike hofdatum sonder sy medewette na ’n dag vroeër verander is, sê hy. Die verskyning was oorspronklik beplan vir 3 Desember, maar is tot 2 Desember vervroeg omdat Kearney se regsverteenwoordiger nie beskikbaar was nie.
Adri Jonck, Leané se ma, het die Chevrolet Spark bestuur wat ook in die botsing betrokke was. Sy het ernstige beserings opgedoen en is na die Pelonomi-hospitaal geneem, maar is later daardie dag ontslaan.
Simpson het gesê dit is vreemd dat Jonck nie ook vervolg word nie.
Familie gespanne
Die hof was vol familie en vriende van Kearney, wat gespanne voorgekom het voordat die verrigtinge begin het.
Leané se pa, Herman van Papendorp, het by die eerste verskyning gesê dit is ’n moeilik pad wat hy stap. “Elke dag is moeilik. Ons neem dit net stap vir stap.”
Die Bloemfonteinse prokureur Adrian Saffy het Simpson opdrag gegee om Kearney in die saak te verteenwoordig.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

