Central SA
Betaal en jy kom op paneel: Sol Plaatje waarsku regslui teen swendelary─── 12:00 Tue, 20 Jan 2026
Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley waarsku regslui teen ’n swendelaar wat geld vra om vir hulle “groot staatskontrakte te verseker”.
Verskeie berigte is ontvang oor iemand wat hom as ’n hooggeplaaste munisipale amptenaar voordoen en omkoopgeld van regspraktisyns vra. In ruil daarvoor sal hulle kwansuis op die munisipaliteit se paneel van prokureurs kom, sê Thabo Mothibi, munisipale woordvoerder.
Die bedrieër het onbeskaamd die naam van die munisipaliteit se regsadviseur gebruik om hom geloofwaardig te laat voorkom, voeg Mothibi by.
Die “geleentheid” om op die paneel te kom, kom met ’n vangplek: Sogenaamde administratiewe gelde moet vooraf betaal word vir dié “eer”. In een voorval is ’n regsfirma in Kimberley genader en onder druk geplaas om R20 000 te betaal “om sy plek te verseker”.

Thabo Mothibi, munisipale woordvoerder, sê private individue wat kontantbetalings of konsultasiegeld eis is nooit betrokke by Sol Plaatje se verkrygingsprosesse nie. Foto: Facebook/Thabo Mothibi
Die munisipaliteit het vinnig opgetree om sy verkrygingsprosesse duidelik uiteen te sit. Sol Plaatje beklemtoon hy sal onder geen omstandighede betaling van diensverskaffers versoek vir insluiting in sy panele of vir enige ander verkrygingsverwante oorweging nie, sê Mothibi.
Met die keuse van regsverteenwoordigers word ’n streng, deursigtige en gereguleerde proses gevolg. Sodra ’n firma wettig en deur die korrekte kanale goedgekeur is, word die ondernemings direk deur die departement van verkrygingskettingbestuur genader.
Private individue wat kontantbetalings of konsultasiegeld eis is nooit betrokke nie.

Die bedrieër kontak regsfirmas met ’n aanbod om hulle op die munisipaliteit se gesogte paneel van prokureurs te plaas. Foto: Freepik
Die munisipaliteit veroordeel hierdie bedrieglike optrede ten sterkste en sê sy reputasie word geskaad. Alle prokureurs en regsfirmas moet waaksaam bly en enige versoek om betaling as ’n gevaarteken beskou, maan Mothibi.
“Regsfirmas word aangemoedig om enige verdagte korrespondensie direk by die munisipaliteit se regsdienste te verifieer, en word versoek om sulke voorvalle by die polisie aan te meld.”
Terwyl die munisipaliteit hierdie slenter bestry, het wetstoepassers ook te kampe met skelmstreke op die paaie. Die Noord-Kaapse polisie waarsku teen boosdoeners wat “padblokkades” opstel. Die publiek moet ook ligloop vir mense wat hulle as wetstoepassers voordoen en hulle probeer afpers.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuuslyn: 066487 1427.

