On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Ficksburg: Man vasgetrek met renosterhorings, diamante en goud

───   07:00 Wed, 21 Jan 2026

Ficksburg: Man vasgetrek met renosterhorings, diamante en goud | News Article
Die polisie het nog nie die beraamde straatwaarde van die renosterhorings of die goud gespesifiseer nie. Foto: Saps

’n Man bly in polisieaanhouding nadat hy met renosterhorings, ongeslypte diamante en goud betrap is tydens ’n roetine-operasie vroeg Dinsdagoggend (20/1) in Ficksburg.

Beamptes van die  eenheid vir sigbare polisiëring het omstreeks 02:15 ’n wit Toyota Alphard in Eindestraat naby ’n vulstasie voorgekeer. Tydens die deursoeking het hulle op ’n pakkie in die kattebak afgekom wat met bruin kleeflint toegedraai was, sê lt.kol. Thabo Covane, provinsiale polisiewoordvoerder.

Volgens hom het die bestuurder, ’n buitelander, aan beamptes gesê hy vervoer die pakkie van Johannesburg na Maseru. Binne-in was vier horings wat vermoedelik van renosters afkomstig is, asook ’n ritssluitersak met 50 vermoedelik ongeslypte diamante.

Daar was ook ’n stuk soliede goud, versteek in ’n medisynehouer.

“Die verdagte is in hegtenis geneem nadat hy nie rekenskap van die items kon gee nie,” sê Covane. “’n Dossier vir die besit van vermoedelike renosterhorings, ongeslypte diamante en goud is by die Ficksburg-polisiestasie geopen.”

’n Dossier vir die besit van vermoedelike renosterhorings, ongeslypte diamante en goud is by die Ficksburg-polisiestasie geopen. Foto: iStock

Die polisie het nog nie die beraamde waarde van die items bekend gemaak nie. Die ondersoek duur voort, en speurders probeer vasstel waar die minerale vandaan kom en wat die beoogde bestemming in Lesotho was.

Breër strategie

In die Noord-Kaap verskerp die polisie intussen hul optrede teen soortgelyke misdade, insluitend die onwettige diamanthandel. Operasies en inhegtenisnemings vorm deel van ’n nasionale strategie om die handel in wildprodukte en onwettige minerale hok te slaan.

Lt.genl. Koliswa Otola, provinsiale kommissaris, sê die polisie sal aanhou om onwettige afsetpunte te sluit en beslag te lê op ongeslypte diamante en ander waardevolle grondstowwe.

Volgens haar is proaktiewe optrede van kardinale belang om die ekonomiese impak van smokkelary en onwettige mynbou te beperk.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuuslyn: 066487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.