Central SA
Bloem-organisasie vra hulp om honger magies te voed─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:07 Fri, 23 Jan 2026
’n Gemeenskapsorganisasie van Bloemfontein vra hulp met sy daaglikse stryd om honderde kinders van minstens een ete per dag te voorsien.
Vir baie kinders in Ehrlichpark is ’n eenvoudige bord kos smiddae dikwels die enigste maaltyd wat hulle die hele dag sal kry. Agter die skerms rek ’n klein span vrywilligers van Angel Arms elke skenking en bestanddeel om magies te vul.
Dié organisasie sonder winsoogmerk is in 2021 gestig toe ’n groep vriende in die gemeenskap gesien het hoe armoede kinders in die omgewing kniehalter, sê Amanda Kruger, direkteur en bestuurder van finansies en administrasie.
“Die organisasie was nooit bedoel om ’n kinderhuis of pleegsorginstelling te wees nie, maar eerder ’n reddingsboei vir gesinne wat sukkel om te oorleef.

Die kinders weet presies waarheen om te gaan as hulle honger is. Foto verskaf
“Ons doelwit was nog altyd eenvoudig: om seker te maak kinders kry minstens een maaltyd per dag. Die nood in Ehrlichpark is groot, en in hierdie stadium gaan al ons tyd, energie en geld in hierdie een gemeenskap, wat dit so nodig het.”
Die organisasie voorsien elke weeksdag middagete aan amper 150 kinders, van pasgebore babas tot tieners. Skoolvakansies kry die kinders ook soggens pap.
Tinkie Delport, een van die vrywilligers, wat ook as die liefdevolle “tannie Tinkie” bekendstaan, berei die kos by haar huis – nou bekend as Angel Arms Station – en versprei dit ook.
Volgens Amanda weet die kinders presies waarheen om te gaan wanneer hulle honger of in die moeilikheid is. Simone Griessel, ook ’n vrywilliger, help met die insameling van skenkings en hulp in die kombuis.

Die organisasie help ook met skoolbehoeftes. Foto verskaf
“Die maaltye van die dag hang af van watter bestanddele beskikbaar is. Op goeie dae ontvang die kinders ’n vol bord met gaar kos – kerrie-en-rys, vetkoek met maalvleis, pap met sous en vleis, of visvingers as ’n spesiale bederf. In die somer is daar slaaie en in die winter warm potte sop,” sê Amanda.
“Sommige dae is ons geseënd met genoeg om almal ’n behoorlike maaltyd te gee. Ander dae is baie moeilik. Daar is tye wanneer daar geen skenkings is nie en die bankrekening in die rooi is.”
Die organisasie maak staat op die ondersteuning van kerke, sakeondernemings, boere en die gemeenskap.
Boere skenk soms groente wat nie mark toe kan gaan nie, of wildsvleis wat vir pasteie gekook kan word. Vars produkte word verwerk en gevries vir latere gebruik.
Maar die uitgawes bly hoog: elektrisiteit vir yskaste en vrieskaste, gas vir kook, brandstof om skenkings in te samel en skoonmaakprodukte ná etes plaas alles swaar druk op die beperkte geld. Higiëneprodukte en sanitêre items is ook voortdurend ’n uitdaging.

Op goeie dae ontvang die kinders ’n vol bord met gaar kos. Foto verskaf
“Dit is ’n groot probleem in byna elke huishouding,” sê Amanda. “Ons maak waardigheid- en sorgsakke vir seuns en meisies wanneer ons skenkings ontvang, maar die behoefte is veel groter as wat ons kan voorsien.”
Benewens om kinders te voed, ondersteun Angel Arms ook swanger vroue, matrieks met hul matriekafskeid en gesinne met kospakkies wanneer dit moontlik is, en verskaf boonop een keer per week maaltye aan plaaslike pensioentrekkers. Skoene, klere, komberse en skryfbehoeftes word versprei wanneer skenkings dit toelaat.
Verjaardae en Kersfees lê die span veral na aan die hart.
“In die meeste huise is daar geen geld vir koeke, geskenke of partytjies nie. As ons kan, gee ons ’n koek en ’n klein geskenkie sodat elke kind spesiaal kan voel op hul verjaardag,” vertel Amanda.
Elke jaar hou die organisasie ’n Kerspartytjie, waar skoendose vol ouderdomsgepaste geskenke ingesamel word sodat elke kind ’n geskenk ontvang.

Dié etes is soms die enigste kos wat die kinders ontvang. Foto verskaf
Die gemeenskap word aangemoedig om betrokke te raak deur bestanddele, klaarbereide maaltye, tweedehandse klere, komberse, skryfbehoeftes, higiëneprodukte en huishoudelike goedere te skenk.
Skenkings kan by Leerdamstraat 16 in Ehrlichpark afgelaai word by Tinkie se huis. Geldelike bydraes kan inbetaal word in die organisasie se bankrekening.
“Ons kan nie die kinders help as die gemeenskap ons nie help nie,” sê Amanda. “Elke skenking, maak nie saak hoe klein nie, maak ’n verskil.”

Klere is ook 'n groot behoefte. Foto verskaf
Die organisasie se volgende groot projek is in Februarie wanneer waardigheidsakke gevul gaan word met noodsaaklike higiëne-items vir seuns en meisies. ’n Groter geldinsameling word ook vir April beplan.
Maak kontak met Angel Arms Outcome per e-pos.
“Ons hart is absoluut vir hierdie kinders,” sê Amanda. “Met God se genade en mense met oop hande en oop harte kon ons hierdie gemeenskap sedert 2021 voed. Maar die nood bly groei – en ons het nou meer as ooit hulp nodig.”
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

