Central SA
Gewese Noordwes-mynbaas kry borgtog in reuse-bedrogsaak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:52 Fri, 23 Jan 2026
’n Voormalige uitvoerende bestuurder van ’n mynmaatskappy in Noordwes is op borgtog vrygelaat hangende verdere ondersoek.
Johan van Vuuren (49), van Heaven Sent Gold Group SA – ’n maatskappy wat myne rondom Klerksdorp besit – het Donderdag (22/1) in Orkney se landdroshof voorgekom. Sy saak is uitgestel tot 17 April.
Hy staan tereg op aanklagte van bedrog en diefstal ten bedrae van R70 miljoen en is borgtog van R20 000 toegestaan, sê lt.kol. Tinyiko Mathebula, provinsiale Valke-woordvoerder.
Van Vuuren is die oggend van sy hofverskyning in hegtenis geneem deur beamptes van die ondersoekeenheid vir ernstige korrupsie in Klerksdorp.
Onreëlmatige kontrakte
Volgens Mathebula het Van Vuuren tussen 2020 en 2022, terwyl hy as uitvoerende bestuurder gedien het, verkrygingprosesse oortree en onreëlmatig kontrakte aan twee mynmaatskappye toegeken. “Een maatskappy het na bewering ’n kontrak van meer as R50 miljoen ontvang en ’n ander een van R20 miljoen, albei sonder die toestemming van die Heaven Sent-raad.”
Verdere ondersoek het aan die lig gebring Van Vuuren het glo ’n direkte belang gehad in die maatskappye aan wie die R20 miljoen-kontrak toegeken is. Boonop is betalings uit die R50 miljoen-kontrak na bewering gemaak aan maatskappye verbind met familielede.
Nog inhegtenisnemings
Mathebula sê korrupsie en verkrygingsverwante bedrog in die mynbousektor is een van die ekonomiese misdade in Suid-Afrika wat die meeste ondersoek word. Topamptenare word toenemend geteiken vir die misbruik van hul ampte.
“Die ondersoek in hierdie saak is steeds aan die gang en nog inhegtenisnemings kan nie uitgesluit word nie,” voeg hy by.
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

