On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vermiste Bloemfonteiner daag by tannie se huis op

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:35 Mon, 26 Jan 2026

Vermiste Bloemfonteiner daag by tannie se huis op | News Article
Dean Dimitri van Wyk is ongedeerd nadat hy drie weke weg was. Foto verskaf

’n Man van Bloemfontein, wat amper drie weke gelede as vermis aangemeld is, is met sy bekommerde familielede herenig.

Dean Dimitri van Wyk (31) se familie is dankbaar hy het ongedeerd opgeduik, al sal hulle dalk nooit weet waar hy was nie. Van Wyk is op 6 Januarie as vermis aangemeld.

Hy het Vrydag (23/1) net ná 19:00 opgedaag by die huis van sy tannie, wat gevra het om naamloos te bly. Hy was ongedeerd en sonder enige beserings. Van Wyk is laas by sy woonplek in Langstraat, Hilton, gesien. Hy het die pad gevat sonder om vir enigiemand te sê waarheen hy op pad was.

Sy oom Hennie Botes het hom polisiekantoor toe geneem, waar Van Wyk ondervra is. Van Wyk het aan die polisie gesê hy is op die dag wat sy familie geglo het hy vermis geraak het, by ’n vulstasie buite die stad opgelaai deur ’n man vir wie hy voorheen gewerk het.

Op ’n plaas gewerk

Die familie vind dit vreemd dat Van Wyk, wat nie ’n selfoon het nie, met dié werkgewer kontak kon maak. Van Wyk vertel hy het die laaste weke weer vir dié man op ’n plaas naby Lesotho gewerk, maar kan nie die presiese ligging onthou nie.

Die man het hom glo Vrydag by ’n vulstasie in Bloemfontein afgelaai, van waar hy na sy familielid se huis geloop het. “Wat ons ietwat bekommer is dat hy steeds dieselfde klere aangehad het as die dag toe hy verdwyn het.”

Van Wyk, wat aan epilepsie ly en ’n mediese dreineringspyp het ná ’n maagoperasie, se “verdwyning” het sy naasbestaandes diep besorg gehad weens sy mediese behoeftes.

‘Die belangrikste is dat hy leef en veilig is’

“Dean het op verskillende dae verskillende weergawes van die gebeure vertel en sommige besonderhede is steeds onduidelik,” sê Botes.

Hoewel die familie steeds nie werklik weet waar hy hom die laaste ruk bevind het nie, is hulle net dankbaar hy leef en is nou veilig.

“Die belangrikste is dat hy leef en veilig is,” sê Botes. “Ons is dankbaar vir almal wat gehelp het om na hom te soek en (wat) die familie gedurende hierdie moeilike tyd ondersteun het.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.