On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse ma, kêrel weer in hof oor vrou se 4 kinders

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:24 Mon, 26 Jan 2026

Bloemfonteinse ma, kêrel weer in hof oor vrou se 4 kinders | News Article
Adriaan Cornelius Seriven (geel hemp) en Wendy Nel (rooi hemp). Foto: OFM Nuus

’n Bloemfonteinse ma, wat aangekla word van poging tot moord op haar tweejarige seuntjie sowel as die mishandeling van al vier haar kinders, moet weer Woensdag (29/1) in die hof verskyn.

Die 34-jarige, wie se identiteit nie bekend gemaak kan word nie om dié van haar kinders te beskerm, staan tereg saam met haar kêrel (25) sowel as hul huismaat, Adriaan Cornelius Seriven (35) en Wendy Nel (40). Die drie medebeskuldigdes staan ook tereg op onder meer aanklagte van poging tot moord en kindermishandeling.

Die viertal van Noordhoek het laas op 12 Desember in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn toe die ma ’n pleit op die aanklagte teen haar sou ingedien het. Die saak is uitgestel nadat die pleitonderhandelinge tussen die staat en die verdediging nie afgehandel kon word nie.

Die pleitverrigtinge sal na verwagting vandeesweek voortduur.

Veelvuldige beserings

Die vier se beweerde optrede het in September 2024 aan die lig gekom toe die ma haar seuntjie na die Pelonomi-hospitaal geneem en beweer het hy het geval. ’n Noodoperasie moes op hom uitgevoer word vir veelvuldige beserings, waaronder ernstige gesigbeserings.

Mediese personeel het onraad vermoed toe hulle vasstel die peuter se beserings stem nie ooreen met ’n val nie. Hulle het die polisie ontbied. 

Verdere ondersoeke het aan die lig gebring die tweejarige se sibbes (4, 6 en 9) is na bewering ook aangerand en verwaarloos. Al vier kinders is uit die huis verwyder en in ’n plek van veiligheid geplaas, waar hulle steeds sorg ontvang.

Adriaan Cornelius Seriven (regs) en Wendy Nel in die hof. Die ma se kêrel (links) se naam mag nie bekend gemaak word nie. Foto: OFM Nuus

Die ma, Servien en Nel is voorheen borgtog geweier nadat dit aan die lig gekom het niemand by die adresse wat hulle verskaf het, was bereid om hulle te huisves nie. Hulle bly in aanhouding.

Die kêrel is voorheen op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hy word verteenwoordig deur Greg Nel, wat aangestel is deur sy ma, wat in Engeland woon. Die ander beskuldigdes maak van regshulp gebruik.

Op 10 Oktober, met hul eerste verskyning, het ’n groep betogers buite die hof saamgekom. Hester Bekker, van die organisasie Guardian and Angel Bloemfontein, het gesê sy het tien jaar lank vir die gesin gesorg toe die pa van die drie jongste kinders nog by hulle gewoon het.

“Nadat die ma en dié man uit mekaar is, het sy deurmekaargeraak met die kêrel, wat ’n baie negatiewe invloed op haar gehad het.”

Betogers buite die hof. Foto: OFM Nuus

Volgens Bekker sou die ma en die kêrel lang tye op ’n slag saam met die kinders wegraak sonder om vir iemand te sê waarheen hulle gaan.

“Die mense wat die ma geken en wat ook saam met haar by ’n kleuterskool in die stad gewerk het, is geskok oor haar (beweerde) optrede omdat sy altyd ’n baie goeie ma vir haar kinders was. Dit is een van die mense van wie jy dit nooit sou verwag nie.”

Bekker sê die oudste dogter is ’n ander man se kind, maar het ook by die ma gewoon. “Die pa van die ander drie kinders het inmekaargesak toe hy foto’s van sy kinders sien en in watter haglike omstandighede hulle leef. Ons is besig om die oudste dogtertjie se pa op te spoor.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.