On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Liefde op die lug: Luisteraar vra jawoord

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:39 Mon, 26 Jan 2026

Liefde op die lug: Luisteraar vra jawoord | News Article
Lourens en Yolani is verloof. Foto verskaf

’n Lojale radioluisteraar het ’n gewone Sondagaandprogram waar luisteraars gewoonlik liedjies versoek, omskep deur die belangrikste versoek van sy lewe te maak.

Jare lank is die Bloemfonteiner Lourens Botha ’n bekende naam onder OFM-aanbieders en -luisteraars. As ’n toegewyde ondersteuner van Die Klank van Jou Lewe neem hy gereeld deel aan kompetisies, woon stasiegeleenthede by en skakel elke dag in op sy gunstelingprogramme.

Hy is ook bekend vir die romantiese boodskappe wat hy elke week na die All Request Sunday stuur, spesiaal vir sy meisie, Yolani Benade, sy “rooi vlam”. Byna elke Sondagaand, net voor 19:00, word ’n spesiale liedjie aan haar opgedra – ’n tradisie wat Lourens nooit vergeet nie, deur sy versoeke ure voor die program te begin stuur.

Die paartjie was meer as drie jaar vriende voor hulle besluit het om in ’n verhouding te wees. Foto verskaf

Sondagaand (25/1) was geen uitsondering nie, maar dié keer het Lourens iets heel anders in gedagte gehad.

Hy het oudergewoonte sy boodskap kort ná middagete ingestuur om seker te maak sy geliefde sou weer haar weeklikse boodskap op die lug hoor. Maar soos die program tot ’n einde gekom het, het hy een laaste versoek gestuur.

Net drie minute voor die program sou eindig, het Lourens die OFM-span gevra om Yolani te bel. Hy wil haar iets vra.

Lang pad met OFM

Regstreeks op die lug, met duisende luisteraars wat die oomblik volg, het hy haar gevra om met hom te trou. Sonder om twee keer te dink, het sy ja gesê.

“Ek was geskok en ’n bietjie opgewonde – met Lourens is enigiets moontlik. Ek hou van my privaat lewe privaat, maar Lourens het ’n lang pad met OFM geloop,” vertel Yolani.

Sy het verwag Lourens sou OFM betrek, aangesien die stasie hom gedurende sommige van sy laagtepunte ondersteun het. “Toe hy kanker gehad het en chemoterapie ondergaan het, het hy voortdurend na OFM geluister.

Die paartjie het mekaar in Junie 2021 op die afspraak-app KOER ontmoet. Foto verskaf

“Mense van OFM het hom ook in die hospitaal besoek, wat ’n groot impak op hom gehad het. Hy wou ook een van sy hoogtepunte met OFM deel.”

Die paartjie, wat al ’n jaar en drie maande saam is, het mekaar in Junie 2021 op die afspraak-app KOER ontmoet en ’n rukkie gesels voordat hulle op hul eerste afspraak was. Lourens het dadelik geweet hy wou saam met haar wees, maar Yolani erken sy was destyds skaam.

Hulle was vir langer as drie jaar vriende voordat hulle in Oktober 2024 besluit het om die verhouding ’n kans te gee.

Beplan klein en intieme troue

Wat trouplanne betref, is alles nog baie nuut en vaag. “Dit sal ’n klein en intieme viering wees. 

“Die grootste opwinding is dat ons saam sal wees. Ons was van die begin af goeie vriende, en nou bou ons ’n lewe saam as vriende en geliefdes,” sê Lourens.

“Dankie OFM, dat jul ons dag spesiaal gemaak het! Al was daar onverwagse oomblikke, was dit baie spesiaal!”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.