Central SA
Welkom-sorgoord: Ses weer in hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:00 Fri, 30 Jan 2026
Die ses mense wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n bejaarde vrou (81) in ’n Vrystaatse versorgingsoord aangerand het, verskyn Vrydag (30/1) weer in die hof wanneer ’n moontlike verhoordatum vasgestel kan word.
Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33) sal in die Welkom-streekhof verskyn. Die ses, almal voormalige werknemers van die Silver Village-versorgingsoord, staan tereg op klagtes van poging tot moord, ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
’n Anonieme bron beweer minstens 40 video-opnames, wat verband hou met die aanranding van Bettie Payne, gaan as bewysstukke ingedien word.

Puseletso Moloi, Ntswaki Mofolo, Nomsa Ngcongwane, Mapaseka Majorobella, Anna Fourie en Lynette Brummer. Foto: Charne van der Merwe
Volgens dié bron wys beeldmateriaal van 7 Julie hoe Brummer glo pille in Payne se mond dwing, in haar gesig blaas, haar neus toeknyp en op haar spoeg nadat sy geweier het om die medikasie te neem. Toe Payne begin skree, sou Brummer glo met kleefband teruggekeer en dit om Payne se mond en kop gedraai het.
Payne se dogter Mariana het kort voor die voorval ’n kamera in haar ma se kamer laat installeer nadat sy vermoed het iets is nie pluis nie.
Die saak is op 8 Desember uitgestel weens ’n uitstaande verklaring. Al ses beskuldigdes het toe aangedui hulle gaan van private regsverteenwoordiging gebruik maak.
‘Elke oortreding kan lei tot ’n vonnis van tot 15 jaar gevangenisstraf’
Die hof het die beskuldigdes gewaarsku die klagtes is ernstig en elke oortreding kan tot 15 jaar gevangenisstraf lei indien hulle skuldig bevind word. Brummer, wat ’n senior pos by die versorgingsoord beklee het en ook ’n aandeelhouer was, word volgens ao. Anja Tait, die ondersoekbeampte, as die hoofbeskuldigde beskou.
Sy is op borgtog van R5 000 vrygelaat onder streng voorwaardes, onder meer dat sy minstens 100 m van die oord af moet bly en haar paspoort moes indien. Die ander vyf beskuldigdes is elk op R1 000-borgtog vrygelaat.
Tait het vroeër getuig die video-opnames is deur ’n sigbare kamera in die kamer gemaak en die personeel was bewus van die kamera. Die beeldmateriaal is later aan ondersoekbeamptes oorhandig.

Bettie Payne en haar dogter Mariana. Foto verskaf
Fourie, Majorobella, Ngcongwane, Mofolo en Moloi word ook in die beeldmateriaal geïmpliseer. Fourie het na bewering die kamer met ’n selfoon betree terwyl Payne om hulp geskree het, en twee personeellede het glo net daar gestaan en gekyk.
Brummer word verder daarvan beskuldig dat sy Payne met ’n kombers toegemaak het, gesê het niemand sou haar hoor nie, en die lig afgeskakel en die kamer verlaat het. Fourie het ná die voorval bedank, terwyl die ander werknemers ná tugverhore afgedank is.

Bettie Payne se hande. Foto verskaf
Die verdediging het vroeër die wettigheid van die inhegtenisnemings bevraagteken en die staat daarvan beskuldig dat hy die verrigtinge vertraag. Tait se beëdigde verklaring en haar getuienis, wat sterk op die videobewyse gesteun het, is ook bevraagteken.
Die hof het die borgtogvoorwaardes vir al ses beskuldigdes verleng.
Die verdediging het die hof versoek om die naam van foto’s tydens die verrigtinge te verbied, maar die aansoek is van die hand gewys.
Die landdros het verduidelik daar bestaan geen wetlike grondslag vir so ’n verbod nie en selfs hoër howe laat foto’s toe in soortgelyke omstandighede.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

