On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Die risiko’s om plasings oor jou kind te skep

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:54 Wed, 28 Jan 2026

Die risiko’s om plasings oor jou kind te skep | News Article
Die beskerming van ’n kind se veiligheid en privaatheid moet altyd swaarder weeg as die begeerte om te deel. Foto: iStock

Ouers hou daarvan om hul kinders te vier.

Mylpale, skoolprestasies, verjaardae en alledaagse oomblikke word dikwels trots op sosiale media geplaas. Dit word gedeel met vriende, familie en selfs vreemdelinge.

Ouers besef egter nie ’n onskuldige plasing kan bydra tot ’n kind se digitale voetspoor, een wat hulle aan werklike en blywende gevaar kan blootstel. Onlangse navorsing oor “sharenting”, die aanlyn deel van kinders se foto’s, video’s en persoonlike inligting, toon dat dit menige veiligheids- en privaatheidsrisiko inhou, sê Mike Bolhuis, privaat ondersoeker.

Volgens wêreldwye studies skep tussen 47% en 61% van ouers gereeld inskrywings oor hul kinders op sosiale media met identifiserende besonderhede soos name, liggings of daaglikse roetines.

Die plaas van kinders se foto’s en video’s op sosiale media hou baie gevare in. Foto: iStock

Dit wat vir ouers onskadelik lyk, kan baie waardevol wees vir misdadigers en aanlyn skurke. “Ouers onderskat dikwels hoeveel inligting hulle verklap. ’n Enkele foto met ’n onderskrif of ligging kan veel meer openbaar as wat ’n mens besef,” waarsku Bolhuis.

Navorsers het bevind in sommige steekproewe het byna die helfte van plasings met kinders persoonlike identifiseerders ingesluit, terwyl tussen ’n vyfde en die helfte van sulke inhoud buite die plaser se teikengehoor bekyk is. Hierdie onbeheerde blootstelling skep geleenthede vir uitbuiting, sê Bolhuis. 

“Sodra ouers ’n plasing maak, verloor hulle beheer oor waar dit gaan en hoe dit gebruik word. Selfs inhoud wat in sogenaamde privaat ruimtes gedeel word, kan sonder toestemming gekopieer, afgelaai of herversprei word.”

Kinders se identiteit moet beskerm word. Foto: iStock

Ouers skep inskrywings met goeie bedoelings of om herinneringe te bewaar, sê Bolhuis, maar so skep hulle ’n permanente digitale identiteit vir hul kinders sonder dat hulle die gevolge op lang termyn mooi verstaan.

“Kinders het nie die wettige of kognitiewe vermoë om toestemming te gee om hul lewe aanlyn te dokumenteer nie. Tog bou ouers in werkliheid ’n digitale profiel vir hulle voordat hulle self daardie besluit kan neem.”

Te veel plasings kan lei tot identiteitsdiefstal, kuberafknouery en reputasieskade, waarsku hy. Kinders se digitale voetspore sal hulle bly volg self nadat hulle groot is en kan hul persoonlike en werklewe beïnvloed.

Ouers moet verder as reaksies en kommentaar dink. Foto: iStock

Ouers moet strenger digitale veiligheidsgewoontes aankweek om blootstelling te verminder, is sy raad. Dit sluit in om sosialemediarekeninge privaat te stel, slegs mense wat jy persoonlik ken op jou sosiale media te aanvaar en geen identifiseerbare besonderhede te verklap nie.

Vir ouer kinders glo hy gesprekke oor toestemming en digitale gevare en kennis is noodsaaklik omdat dit kinders van digitale identiteit leer en kan bemagtig om hulself eendag te beskerm.

“Die beskerming van ’n kind se veiligheid en privaatheid moet altyd swaarder weeg as die begeerte om te deel. Ouers moet verder as reaksies en kommentaar dink. Deurdagte digitale gedrag vandag kan ernstige skade môre voorkom.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.