Central SA
Griekwastad-moordenaar se parool hersien─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:40 Thu, 29 Jan 2026
Die paroolbesluit oor die Griekwastad-moordenaar, wat drie lede van ’n gesin vermoor het, gaan hersien word.
Dr. Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste, het Woensdag (28/1) aan OFM Nuus bevestig die paroolraad op Upington se besluit om die veroordeelde moordenaar op parool vry te laat, sal vir hersiening na die hersieningsraad vir korrektiewe toesig en parool verwys het. Die besluit is in Desember geneem.
Die 29-jarige, wat al langer as tien jaar agter tralies is, het die boer Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christelle (43), en hul dogter, Marthella (14), op Goeie Vrydag 2012 op die plaas Naauwhoek in die distrik Hay vermoor. Hy het Marthella ook verkrag.
Die oudleerder van Grey Kollege in Bloemfontein het ook op 14 Desember 2023 voor die paroolraad verskyn. “Hy is egter verwys vir verdere profielontwikkeling aangesien hy nog ander programme moes voltooi,” het Singabakho Nxumalo, woordvoerder van korrektiewe dienste, vroeër gesê.

Marthella Steenkamp. Foto: Facebook
Gevangenes doen nie aansoek om parool nie, het hy verduidelik. Dit is ’n outomatiese proses, wat begin sodra ’n gevangene die helfte van sy vonnis uitgedien het.
“Die moordenaar het die minimum- voorgeskrewe tydperk van sy vonnis uitgedien; daarom het hy vanself vir parool in aanmerking gekom. Hy is egter aanvanklik as ongeskik beskou, en verdere profielontwikkeling en bykomende programme moes voltooi word.”
Die identiteit van minderjariges wat by ’n misdaad betrokke was, mag nie bekendgemaak word nie, selfs nadat hulle 18 word, tensy ’n formele hofaansoek ingedien word.

Deon en Christel Steenkamp. Foto: Facebook
Regter Frans Kgomo van die hooggeregshof in Kimberley het die oortreder op 13 Augustus 2014, twee dae voor sy 18de verjaardag, tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir elk van die moorde.
Die beskuldigde het beweer dit was ’n plaasaanval. Tydens die verhoor het die staat aangevoer die motief vir die moorde hou verband met die minderjarige meisie.
Nxumalo wou nie aan OFM Nuus bevestig of die man voor die paroolraad verskyn het nie. ““Sodra enige inligting beskikbaar is, sal die departement van korrektiewe dienste ’n verklaring uitreik.””
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

