On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Boerklong van Smithfield bult spiere op wêreldverhoog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:20 Thu, 29 Jan 2026

Boerklong van Smithfield bult spiere op wêreldverhoog | News Article
Johan Smith. Foto verskaf

’n Boer van die Suidoos-Vrystaat maak gereed om ’n internasionale verhoog te betree, in alle opsigte die teenoorgestelde van die plaaspaaie en grasvlaktes wat hy soos die palm van sy hand ken.

Johan Smith (34) wil sy deelname aan Mr Bear International in Bangkok gebruik om ’n positiewe liggaamsbeeld te bevorder by mense wat nie aan Hollywood-maatstawwe voldoen nie. Hy wil ook vir die wêreld ’n ander, inklusiewer kant van Suid-Afrika wys.

Die kompetisie van 9 April tot 15 April bring manne met ’n bietjie lyf uit alle uithoeke van die wêreld bymekaar om inklusiwiteit, selfvertroue en positiewe liggaamsbelewing te vier.

Smith het teruggetrek na hul plaas in die distrik Smithfield om vir sy ouers te sorg nadat hy sy skoolloopbaan op Zastron voltooi het. Hy bedryf ’n bestaansboerdery en verskaf ook spyseniering aan wildplase tydens die jagseisoen, sowel as vir troues en ander geleenthede.

Johan Smith wil positiewe liggaamsbeeld bevorder. Foto verskaf

“Die kompetisie is soortgelyk aan Mnr. Suid-Afrika of Mnr. Wêreld, maar vir mans met ’n bietjie meer vleis aan die lyf,” sê Smith. Die Hollywood-gedrewe stigma oor hoe mense “veronderstel” is om te lyk, berokken kinders en die breër samelewing skade, meen hy.

Hy is verlede maand gekies uit ’n groep van 20 kandidate, wat later tot vyf finaliste verminder is op grond van karakter en persoonlikheid. “Op 6 Desember, net ná 20:00, het ’n droom waar geword. Ek is as die wenner aangewys.”

Hoewel dit nooit deel van sy plan was om op ’n wêreldverhoog mee te ding nie, het hy nie vir ’n oomblik gehuiwer toe die geleentheid hom voorgedoen het nie.

“Met al die slegte publisiteit wat Suid-Afrika wêreldwyd kry, het ek gevoel dit is my plig om te wys dat daar steeds skoonheid in ons land is.”

Johan Smith is ’n mense-mens. Foto verskaf

Mr Bear International gaan oor veel meer as net voorkoms. “Jy moet reeds deel wees van die Bear-gemeenskap en jou leefstyl moet weerspieël dat jy ander opbou en ondersteun.”

Smith berei reeds ywerig voor met die ondersteuning van plaaslike handelsname en geldinsamelingspogings om onvoorsiene uitgawes te dek.

“Dit is chaoties en opwindend terselfdertyd! Ek het vyf verskillende uitrustings vir die kompetisie nodig. Dit is lekker om te sien hoe mense steeds bymekaarkom om iemand op hierdie manier te ondersteun.

“Lush-Wear het my met die meeste van my uitrustings gehelp en Bearable-Wear met die leeruitrusting en die nasionale drag.”

Johan Smith. Foto verskaf

Smith sien opgewonde uit na die kompetisie, maar erken dit gaan met vrees gepaard. “Die vrees kom van die erns van die kompetisie en die verantwoordelikheid om my land te verteenwoordig. Die opwinding kom van die wete dat jy ’n stem word – ’n ambassadeur.”

Hy beskryf homself as spontaan, energiek en altyd gereed vir sport, terwyl hy ook ’n mense-mens is. 

Hy glo die geleentheid het reeds ’n blywende uitwerking op sy lewe gehad. “Jy twyfel altyd aan jouself, maar die selfvertroue wat jy uit so iets kry, dra jou deur dit alles. Dit sê vir jou dat wat jy reeds in die lewe deurgemaak het, nie tevergeefs is nie.”

Johan Smith is 'n man van vele talente. Foto verskaf

Benewens die geleentheid self, ’n nuwe land en al die ander opwindende dinge wat daarmee gepaardgaan, sien hy ook daarna uit om die ander deelnemers te ontmoet.

As hy die ervaring in een woord moet opsom, is dit fantasmagories. “Dit is ’n eenmalige geleentheid. Ek gaan alles gee wat ek kan.”  

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.