Central SA
Beleggingsontleder gee raad ná Noord-Kapenaar glo mense inloop─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:08 Fri, 30 Jan 2026
’n Kenner waarsku mense moet lig loop vir beleggingsgeleenthede, want swendelaars kan jou ’n rat voor die oë draai deur druk uit te oefen, jou vertroue te wen of te maak asof hulle eerlik is.
Die verhoor van ’n Noord-Kapenaar, wat hom na bewering as ’n belegger voorgedoen en slagoffers uit miljoene rande bedrieg het, duur na verwagting op 22 Julie voort. Ruan Maritz (30) se verhoor in die handelsmisdaadhof op Hartswater word dan hervat.
Hy staan tereg op aanklagte van bedrog nadat hy beleggers na bewering sowat R2 miljoen gekos het.
Maritz, wat ook op 22 Januarie in sy verhoor verskyn het, het glo beweer hy is ’n makelaar vir Quick Trade Investment en Forex Trading, sê kol. Tebogo Thebe, provinsiale polisiewoordvoerder.

Ruan Maritz se verhoor word in Julie hervat. Foto: Facebook/Ruan Maritz
Hy word daarvan beskuldig dat hy beleggers oortuig het om ooreenkomste aan te gaan wat gelyke finansiële bydraes van albei partye vereis het. “Hy het egter versuim om sy deel na te kom,” sê Thebe.
Maritz is op 25 Maart verlede jaar in hegtenis geneem en is die volgende dag borgtog van R50 000 toegestaan.
Ruan Marais, ’n beleggingsontleder van Salvo Capital, sê een van die eerste foute wat beleggers maak, is om te vinnig op te tree. “ ’n Belegger moet stadiger optree en alles verifieer voordat hy betrokke raak.
“Wettige makelaars of beleggingsmaatskappye moet deursigtig wees oor hul volle, wettige naam, straatadres en hoe kliënte se geld gehanteer sal word. As enige van hierdie inligting weerhou word, vaag is, of ‘later verskaf sal word’, is dit ’n vroeë waarskuwingsteken.”
G’n lisensie, g’n magtiging
Marais beklemtoon enigiemand wat beleggingsadvies, handelsdienste of die bestuur van geld in Suid-Afrika aanbied, moet daartoe gemagtig wees deur die gedragsowerheid vir die finansiële sektor (FSCA).
“Geen lisensie is gelyk aan geen wettige magtiging om beleggings aan te bied nie, ongeag hoe professioneel hulle klink,” sê hy. Beleggers moet altyd vra vir ’n FSCA-registrasienommer as finansiëlediensteverskaffer en dit moet onafhanklik geverifieer word.
Wettige verskaffers moet aan streng geskiktheidsvereistes voldoen, insluitend relevante kwalifikasies, bedryfservaring en ’n skoon regulatoriese en misdaadgeskiedenis, sê hy. “Iemand word nie wetlik gemagtig bloot omdat hulle hul eie geld verhandel, selfopleiding ontvang het of aanspraak maak oor vorige suksesse nie.”
Die FSCA-register, wat vrylik toeganklik is vir die publiek, stel beleggers in staat om na te gaan of ’n maatskappy of individu behoorlik gemagtig is om die dienste te lewer. “As hulle nie op die lys is nie, of die toestemmings nie ooreenstem met wat aangebied word nie, stap eerder weg.”
‘Gewaarborgde opbrengste’
Sogenaamde vennootskapsooreenkomste, waar beleggers gevra word om ’n ander party se kapitaal te ewenaar, moet ook die gevaarligte laat flikker, waarsku Marais. Sulke reëlings moet onmiddellike agterdog wek, veral wanneer die ander party die handel- of bankrekening beheer. “Bedrieërs gebruik dikwels ‘vennootskapstaal’ om regulering te vermy.”
Beloftes van gewaarborgde opbrengste, gedeelde bydraes of vinnige winste is ook algemene waarskuwingstekens. “Markte waarborg niks nie,” sê Marais. “Waarborge is onwettig in gereguleerde belegging en dit dui dikwels daarop dat risiko’s verswyg of geïgnoreer word.”
Bedrieërs gebruik gereeld taktiek soos om ’n luukse lewenstyl voor te hou, skermgrepe te wys van “winste”, ’n gevoel van dringendheid te skep en vertroue te bou. “Vertroue word geskep voordat geld versoek word.”
‘Wettige beleggings kan ondersoek word’
Diegene wat meen hulle is die slagoffer van ’n beleggingslenter, moet onmiddellike optree, is Marais se raad. Hou op geld stuur of bydra, bewaar alle bewyse, nader jou bank en meld die saak aan by die FSCA en die polisie.
“Hoewel die terugvordering van geld nie gewaarborg is nie, verbeter vroeë aanmelding die kanse om te verhoed dat ander skade ly,” sê Marais.
“As jy dit wat aangebied word, nie verstaan nie, en jy dit nie onafhanklik kan verifieer nie, moenie belê nie. Wettige beleggings kan ondersoek word. Slenters is afhanklik van druk en geheimhouding.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

