On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp-vermoorde se familie hoop vir geregtigheid

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 07:00 Mon, 02 Feb 2026

Klerksdorp-vermoorde se familie hoop vir geregtigheid | News Article
Pretorius se ma, Linda Mey, sy suster Lindie Geldenhuys en broer Danie Pretorius in September in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die familie van Hilton Pretorius, die Noordwes-man wat byna drie jaar gelede ná ’n parkeerterreinvoorval dood is, bly hoopvol dat geregtigheid sal geskied wanneer die moordverhoor Maandag (2/2) in die Klerksdorp-streekhof hervat word.

Wernich Botha staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord. Hy word beskuldig van die dood van Pretorius en die aanranding van sakeman PW Roos.

Die voorval het op 1 September 2023 buite Cadillac’s 60s Pub in Doringkruin, Klerksdorp, plaasgevind. Pretorius het ernstige kopbeserings opgedoen en is 18 dae later oorlede. Roos het tydens dieselfde voorval ’n skouerbesering opgedoen.

Die verhoor sou reeds op 2 Augustus hervat word, maar is uitgestel nadat Botha se regsverteenwoordiger, Hennie du Plessis, weens ’n misverstand nie in die hof opgedaag het nie. Luidens berigte was hy op ’n ander dorp nadat daar verwarring tussen die aanklaer en die landdros ontstaan het oor die verhoordatum.

Hilton Pretorius het ernstige kopbeserings opgedoen en is oorlede 18 dae ná die voorval in September 2023. Foto: Facebook

Pretorius se familie het die afgelope week met rolspelers in die saak vergader. Dit het, volgens sy ma, Linda Mey, tot positiewe vordering gelei.

“Ons gesprekke met die betrokke partye het goed verloop. Verdere konsultasies, insluitend vergaderings tussen regspanne en die oorweging van getuienis, is reeds afgespreek,” sê sy.

Die Pretorius-gesin sê hulle is dankbaar vir die publiek se volgehoue steun, gebede en bemoedigende boodskappe. Mey het AfriForum en adv. Gerrie Nel bedank vir hul betrokkenheid.

Moordklag staan

Die verhoor, wat aanvanklik op 27 Januarie 2025 sou begin, is reeds verskeie kere uitgestel. Die direkteur van openbare vervolging het die aanklagte hersien en uiteindelik besluit om met die aanklagte van moord en poging tot moord voort te gaan. Daar is vroeër oorweeg om dit te versag na aanranding en strafbare manslag.

’n Video van die voorval, wat wyd op sosiale media versprei is, wys hoe Pretorius bewusteloos en bebloed in die parkeerterrein lê, en hoe Roos val nadat hy na bewering aangerand is toe hy probeer het om in te gryp. Botha is kort ná die voorval in hegtenis geneem en later op borgtog van R2 000 vrygelaat.

In Mei het die hof drie dae vir die verhoor ingeruim. Tydens dié sessie het Botha se voormalige vriendin, Natasha van der Merwe (voorheen Fisher), as belangrike getuie getuig. Volgens haar verklaring het Botha die aand van 1 September onverwags uit Somalië teruggekeer en Pretorius by haar huis aangetref.

In slaap geslaan

Volgens haar het Botha Pretorius geslaan terwyl hy geslaap het, wat tot ’n konfrontasie gelei het wat later in die straat en uiteindelik by die kroeg voortgesit het, waar die noodlottige voorval plaasgevind het.

Volgens Van der Merwe se getuienis het Pretorius in die dae voor die voorval honderde boodskappe, waarvan sommige dreigend was, vir haar gestuur. 

Sy het volgehou dat Botha uit selfverdediging opgetree het en selfs ná die aanranding probeer het om Pretorius medies by te staan terwyl hulle vir ’n ambulans gewag het.

‘Wernich Botha is sagmoedig en nie gewelddadig nie’

Sy sê sy het ’n onderhoud met Huisgenoot toegestaan om Botha se karakter te verdedig en beskryf hom as “sagmoedig en nie gewelddadig nie”.

Pretorius se ma, broer Danie en suster Lindie Geldenhuys het met die vorige hofverrigtinge aan OFM Nuus gesê die afgelope maande was baie moeilik, “want ons het nog nie kans gehad om Hilton se dood te verwerk nie”.

Caswell Ntoyi tree as aanklaer op, terwyl Kobus Burger en Hennie du Plessis Botha se verdediging behartig.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.