On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Partye rig ultimatum aan Mangaung oor vullis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:49 Sat, 31 Jan 2026

Partye rig ultimatum aan Mangaung oor vullis | News Article
Rommel hoop op oral in Bloemfontein. Foto verskaf

Die DA en AfriForum in die Vrystaat eis dringende optrede deur die Mangaung-metro omdat vullisverwydering agterweë bly in die stad.

Die metro is agter met vullisverwydering regoor die metro. Die opgehoopte rommel hou groeiende gesondheid-, omgewing- en ekonomiese risiko’s vir inwoners en ondernemings in.

Die DA in Mangaung het ’n formele ultimatum aan die munisipaliteit gerig dat die munisipale bestuurder binne ’n week skriftelik duidelikheid moet verskaf oor hoe weeklikse vullisverwydering hervat en daarmee volgehou gaan word, sê Tjaart van der Walt, DA-raadslid. Die munisipaliteit moet teen Vrydag (6/2) reageer.

“Dit is nie ’n politieke versoek nie, maar basiese wetlike en administratiewe verpligtinge.”

Vullis wat nie verwyder word, skep gesondheidsgevare vir inwoners, sê die DA en AfriForum. Foto verskaf

Hy sê die munisipaliteit moet ’n geloofwaardige bedryfspan verskaf wat vlootbeskikbaarheid, brandstofvoorsiening, personeel en agterstandvoorkoming betref, en gevolgbestuur moet bevestig word waar mislukkings voortspruit uit nalatigheid of swak bestuur.

Van der Walt waarsku indien die munisipaliteit versuim om teen die vasgestelde spertyd aan die versoek te voldoen, sal die saak verwys word na die LUR verantwoordelik vir omgewingsake vir regulatoriese afdwinging, ingevolge die afvalwet wat deel is van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur.

Vullisverwydering is dae agter, en in sommige gebiede is dit weke. Onwettige storting neem gevolglik toe, die afval verrot in die strate en erwe, en inwoners word gedwing om rommel uit desperaatheid te verbrand, wat verdere ernstige gesondheid- en omgewingsgevare inhou.

‘Die voortdurende versuim om vullis te verwyder is nie net onaanvaarbaar nie, maar ook onwettig’

Intussen het AfriForum ook ’n formele klag by die Mangaung-metro ingedien, waarin die munisipaliteit versoek word om die probleem op te los wat hulle beskryf as die langdurige en onwettige versuim om basiese vullisverwyderingsdienste te lewer.

Vullisverwydering in verskeie voorstede, insluitend Langenhovenpark, Universitas en Wilgehof, het tot stilstand gekom óf vind net sporadies plaas, sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikkoördineerder vir Bloemfontein.

“Die voortdurende versuim om vullis te verwyder is nie net onaanvaarbaar nie, maar ook onwettig.”

Inwoners betaal hul munisipale rekenings vir dienste wat eenvoudig nie gelewer word nie, met ernstige gevolge vir die gemeenskap en plaaslike ondernemings.

Oplossings aangebied

AfriForum het voorheen alternatiewe oplossings aangebied, insluitend die oorname van vullisverwydering ingevolge ’n diensleweringsooreenkoms, vennootskap of ander wetlike meganisme.

“AfriForum het die nodige vermoë, infrastruktuur en gemeenskapsnetwerke om hierdie diens doeltreffend en verantwoordelik in die belang van inwoners te lewer,” sê Groenewald.

Dirk Kotzé, DA-raadslid, sê die party het reeds op 13 Januarie versoek opgehoopte afval wat gesondheidsrisiko’s inhou, moet verwyder word, maar geen reaksie is van die uitvoerende burgemeester ontvang nie.

“Hoewel samewerking met eksterne vennote belangrik is, kan dit nie ten koste van noodsaaklike dienste soos vullisverwydering gebeur nie,” sê Kotzé. Hy  skryf die agterstand toe aan dieseltekorte, oortydgeskille en dat voertuie gereeld nie beskikbaar is nie.

Reaksie geëis

AfriForum het munisipale bestuurder Sello More versoek om dringend skriftelik aan te dui watter onmiddellike stappe gedoen sal word om die krisis aan te pak en om die organisasie oor alternatiewe diensleweringsopsies te nader.

Die organisasie sal ook verdere stappe oorweeg indien geen bevredigende reaksie ontvang word nie.

Van der Walt sê die voortdurende agteruitgang van dienste laat inwoners geen ander keuse as om aanspreeklikheid te eis nie.

“Nasionale wetgewing vereis die weeklikse verwydering van huishoudelike en sakeafval op die geskeduleerde dae. Hierdie verpligtinge is nie opsioneel nie, en ons sal voortgaan om op te tree totdat voldoen word hieraan en basiese diensstandaarde herstel word.”

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.