Central SA
Minderjariges vas ná verwoestende brand by Noord-Kaapse skool─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:02 Sun, 01 Feb 2026
Drie skoolmeisies van Augrabies in die Noord-Kaap word van brandstigting aangekla nadat ’n plaaslike skool groot skade opgedoen het tydens ’n brand.
Die meisies, tussen 14 en 15 jaar, het glo op 16 Januarie ’n brand by die Hoërskool Augrabies laat ontstaan. ’n Negejarige, wat glo ook by die voorval betrokke was, sal nie aangekla word nie weens haar ouderdom.
Dit is nog nie bekend hoe die brand begin het nie. ’n Ondersoek na die voorval is steeds aan die gang en die saak sal deur die gereg gehanteer word, sê ao. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.

Kantoortoerusting en skooldokumente is in die brand verwoes. Foto verskaf
Intussen het die Noord-Kaapse onderwysdepartement stappe gedoen om te verseker dat onderrig by die skool so min as moontlik ontwrig word.
Geoffrey van der Merwe, departement woordvoerder, sê vyf mobiele klaskamers en ’n mobiele kantoor sal teen die einde van die week by die skool opgerig word.
Die skool het altesaam 279 leerlinge. Ses klaskamers kan steeds gebruik word. Ongeveer 76 gr. 7-leerlinge word tans tydelik by die nabygeleë Assumpta Primary School geakkommodeer.

Die oorsaak van die brand is nie bekend nie. Foto verskaf
Onderrig sal na verwagting weer teen volgende week normaal kan voortgaan.
Nege klaskamers en die administrasieblok is tydens die brand verwoes. Noodsaaklike kantoortoerusting en belangrike skooldokumente is ook vernietig. Niemand is tydens die brand beseer nie.
Die departement sê die voorval beklemtoon die belangrikheid van skoolveiligheid en voorkomende maatreëls. Amptenare sal voortgaan om die ondersoek te monitor en die nodige stappe doen om soortgelyke voorvalle te voorkom.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

