Central SA
Bejaarde Sasolburger herenig met familie ná byna 10 dae─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:05 Sun, 01 Feb 2026
'n Bejaarde man van die Vrystaat is met sy geliefdes herenig nadat hy vir byna tien dae vermis was.
Johan Fourie (74) van Vaalpark, Sasolburg, is Saterdag (31/1) in Klerksdorp gevind. Hy is Dinsdag 20 Januarie as vermis aangemeld nadat hy sy huis omstreeks 11:30 verlaat het.
Hy was na bewering op pad na Rustenburg om sy seuns te besoek, maar het nooit sy bestemming bereik nie, sê sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder.
“Omstreeks 18:00 dieselfde dag het Johan se lewensmaat sy seuns gekontak om te verneem of hy veilig aangekom het. Sy moes toe hoor hy het nooit by hulle opgedaag nie.”
Geen wagtydperk
Daar is geen wagtydperk om ’n persoon as vermis aan te meld nie. Vroeë aanmelding verbeter die kanse op ’n suksesvolle uitkoms. Die volgende kan help:
- Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
- Gee ’n volledige beskrywing van waar die vermiste persoon woon, die klere wat hy/sy aan gehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
- Vul die polisie se 55(A)-vorm in en onderteken dit. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en magtig hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
- Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede, en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word direk aan hom of haar.
- As ’n vermiste gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. Die polisie se 92-vorm moet ingevul word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel, sodat die vermiste persoon se geval uit die verspreidingstelsel gehaal kan word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

