Central SA
Jong Bloemfonteiner se orrelklanke weerklink tot in Italië─── 14:19 Tue, 03 Feb 2026
In die Yazbek-familie moet elke kind tot matriek klavier- sowel as swemlesse neem. “Dit is maar hoe dit nog altyd in ons bedrywige Libanese familie gewerk het!” vertel Luke Yazbek (21).
Dié jong Bloemfonteiner het deesdae gehore landwyd aan sy voete met sy orreluitvoerings. Sedert hy as baba sy eerste treë gegee het, het Yazbek reeds wankelrig sy pad gevind na oupa Peter en ouma Carlen se klavier.
“Al kon dit sekerlik nog nie musiek genoem word nie, het niemand ooit daaroor gekla nie!” lag hy. “Inteendeel, hulle het my deurentyd aangemoedig om te speel.”
Dit is dan ook te verstane dat hy nie kon wag om in gr. 1 aan die Grey Kollege Primêr “ernstige musiek te begin speel nie.”
Yazbek dink vandag met nostalgie en dankbaarheid terug aan die musiekonderwysers wat vir hom in sy gr. 2 jaar die deur na ware musiekonderrig en -waardering oopgemaak het. By Maryn Fourie begin hy met klavieropleiding en later daardie jaar laat Danré Strydom hom kennis maak met die saksofoon.
“Om agter die klavier en saksofoon te sit en net te spéél, was deur die jare vir my die suiwerste ervaring van vryheid.”

Tydens sy optrede in Bloemfontein is hy bygestaan deur Rosslyn Sorour, ook ’n talentvolle musikant. Foto verskaf
Met die jare het die geesdriftige ondersteuning van sy ouers, Victor, ’n patoloog, en Katie, ’n palliatiewesorg-spesialis, asook dié van sy sussie, Leila (16), hom deur moeilike tye gedra.
“Leila verstaan my so goed. Sy is ’n nasionale swemkampioen en beleef ook daagliks groot uitdagings.”
Aan die begin van gr. 8 ontvang Yazbek ’n musiekbeurs van die St John’s College in Johannesburg. “Al het ek gemaklik ingepas tussen ander kinders met musikale agtergrond, dink ek tog ons gesin het die uitdaging onderskat vir my, as 13-jarige, eensklaps 400 km weg van my ouerhuis.”

Luke was dikwels in aksie op die orrel van sy skool, St John’s College in Johannesburg. Foto verskaf
Dit het lank geduur om vriende te maak en sy voete te vind. “Tydens daardie moeilike tyd was musiek die enigste konstante faktor vir my.”
Vir Yazbek het die draaipunt gekom toe sy klavierdosent Cameron Upchurch hom aanmoedig om ook orrellesse te begin neem. “Stadig maar seker kon ek in hierdie tyd ook die emosionele uitdagings van ’n ‘elite private boys school’ oorkom.”
Kort voor lank was hy deel van die skool se blaasorkes, die saksofoon-ensemble, asook leier van die koor en kleiner Schola Cantorum.

Soms gebeur dit dat Luke sommer self op ’n Sondagoggend moet inspring om vinnig ’n orrelfout te herstel. Foto verskaf
In hierdie tyd begin Yazbek ook ernstig skryf aan klassieke musiek en verower hy saam met sy beste vriend eerste plek in die Rodean- Nasionale Musiekkompetisie. “Al was my matriekjaar met veel meer musiek as akademie gevul, sou ek dit glad nie anders wou gehad het nie.
“Ongelukkig moes ek realisties wees. Musiek as ’n loopbaan in Suid-Afrika, is baie moeilik.”
Luke het besluit om in 2024 in te skryf vir ’n graadkursus in aktuariële wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad. Dit verhinder hom egter nie om steeds sy liefde vir die orrel uit te leef nie.
Orrelis in Mowbray
Hy is deesdae orrelis by ’n kerkie in Mowbray, nie ver van die kampus af nie.
Die behoefte bly steeds om vir ’n wyer gehoor orrel te speel. Vroeg in sy eerste jaar reël hy op eie stoom sy eerste uitvoering, Fantasia for Pipes.
Die dawerende sukses daarvan het hom geïnspireer om méér sulke geleenthede aan te pak, maar die verantwoordelikheid van sy studie het hom eers laat halt roep.

Luke is altyd verseker van die ondersteuning van sy gesin. Hier is hy saam met sy ma, Katie, en sy sussie, Leila. Foto verskaf
In Junie verlede jaar val ’n onvergeetlike gebeurtenis Yazbek te beurt. “Ek was saam met my familie met vakansie in Rome. Skielik het ek besef dat dit die mees Katolieke stad ter wêreld is.
“Ek kon eenvoudig nie terugkeer na Suid-Afrika voordat ek daar op ’n orrel gespeel het nie!”
Nadat hy ’n hele paar kerke genader het, kry Yazbek toestemming om ’n uur lank op die orrel in San’ Antonio dei Portoghesi te speel. Binne daardie uur het meer as 30 mense in die kerk kom sit en luister.
Viering van Franse orrelmusiek
Uit dié besondere geleentheid en met die aanmoediging van ouddosente en vriende is die idee vir Les maîtres de l’orgue (“orrelmeesters”) gebore. “Hierdie program, wat ek sélf saamgestel het, is ’n viering van Franse orrelmusiek, een van die grootste en indrukwekkendste soorte orrelmusiek.”
Yazbek het besluit om die eerste uitvoering op sy tuisdorp te lewer. “Dié Desemberaand in Bloemfontein se Anglikaanse katedraal sal my altyd bybly.”
’n Tweede uitvoering het vroeg vanjaar in Philippolis se enorme NG kerk plaasgevind. Verlede naweek was Prins Albert aan die beurt en Saterdag (7/2) tree hy op in die United Church in Rondebosch.
‘Ek wil wêreldwyd die kuns van orrelspel, as solo-instrument, met ander deel’
Wat is die dryfveer agter die harde werk vir hierdie Vrystater? “My orrelspel bly vir my ’n uitdaging. Ek wil wêreldwyd die kuns van orrelspel, as solo-instrument, met ander deel.”
Wat die onmiddellike toekoms betref, sal hy graag wil tyd inruim vir ander dinge wat hy geniet. “Ek wil bergklim, reis, tyd saam met my vyf honde en twee katte deurbring, my Lego-versameling uitbrei en meer tyd maak vir lees.”
Dink hy daar gaan tyd wees om dit te doen? “O ja, beslis. Ek sien uit na alles wat die toekoms vir my inhou!”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

