Central SA
Upington-moord: Beskuldigdes ná byna ses jaar gevonnis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:41 Wed, 04 Feb 2026
Die drie beskuldigdes in die moord op ’n Noord-Kaapse vrou is eindelik ná langer as vyf jaar gevonnis.
Twee van die beskuldigdes is Dinsdag (3/2) in die hooggeregshof op Upington tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Die derde beskuldigde is vyf jaar tronkstraf opgelê vir haar rol in die wrede moord.
Judith Redelinghuys (71), ’n sakevrou van die dorp wat die plaaslike Woolworths-tak besit het, is op 30 Junie 2020 in haar huis vermoor. Haar dogter, Leanne Arnon, het ondersoek ingestel nadat sy bekommerd geraak het toe sy nie haar ma in die hande kon kry nie.
Redelinghuys is gevind waar sy op haar maag in haar swembad gedryf het by haar huis in ’n veiligheidskompleks op Upington. Haar hande was agter haar rug vasgebind en van haar juweliersware was weg. Tumelo Mavlenter Sotho (44), Martatjie Engelbrecht (36) en Nkosinathi Ntombela (39) is aangekla van moord, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling.
Sotho, Redelinghuys se tuinier, en Ntombela is skuldig bevind aan moord en roof met verswarende omstandighede en regsverydeling. Engelbrecht is skuldig bevind as medepligtige aan die roof en moord, maar vrygespreek op die aanklag van regsverydeling, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG woordvoerder.
Ntombela en Sotho is op 4 November 2020 in hegtenis geneem nadat ’n plaaslike pandjieswinkel die polisie in kennis gestel het van ’n man wat probeer het om ’n duur ring te verkoop. Ntombela, wat in Julie 2020 in hegtenis geneem is, is vrygelaat nadat Engelbrecht in ’n beëdigde verklaring beweer het die ring is hare.
Judith Redelinghuys. Foto: Facebook
’n Ondersoek na Engelbrecht se weergawe van die gebeure het egter aan die lig gebring dat die ring spesiaal vir Redelinghuys in Kaapstad ontwerp en vervaardig is. Ntombela, Engelbrecht en Sotho is in Mei 2021 in hegtenis geneem.
Sotho het in dieselfde woonkompleks gewerk, sê Senokoatsane. Danksy die vertrouensverhouding wat hy mettertyd met Redelinghuys opgebou het, kon hy ’n sleutelrol in die beplanning en uitvoering van die rooftog speel.
Tydens die verhoor het aan die lig gekom Redelinghuys is met ’n elektriese koord verwurg, ’n voorskoot is oor haar mond en nek vasgemaak, en haar liggaam is toe in die swembad gegooi. Al drie beskuldigdes was sedert hul inhegtenisneming in aanhouding, aangesien die staat hul borgtogaansoeke suksesvol teengestaan het.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


