On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Man in hof oor ‘vleisreuk in sy huis’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:23 Fri, 06 Feb 2026

Man in hof oor ‘vleisreuk in sy huis’ | News Article
Die verdagte het vermoedelik die vleis deur veediefstal bekom. Foto verskaf

’n Noord-Kapenaar verskyn na verwagting Vrydag (6/2) in die hof nadat hy na bewering ’n man aangeval het wat vrae gevra het oor ’n vleisreuk in sy woning.

Loxton-polisie het die 22-jarige Woensdag (2/4) in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde veeprodukte en aanranding met die opset om ernstige te beseer.

’n Gemeenskaplid het die verdagte genader en gevra oor die reuk van vleis wat uit sy woning kom, waarop die man hom glo met ’n skerp voorwerp gesteek het, sê ao. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Die beseerde man het hulp gaan soek en polisiebeamptes gevind wat die gebied gepatrolleer het.” Die polisie is saam met die slagoffer na die verdagte se plek waar hulle op vleis afgekom het.

Van die vleis wat gevind is. Foto verskaf

Volgens Shemane kon die verdagte nie verduidelik waar die vleis vandaan kom nie en is hy op die toneel in hegtenis geneem.

Isabel Kruger, veediefstalkenner, het vroeër aan OFM Nuus gesê die dokumentasie wat vereis word wanneer vee verhandel word, is uiters belangrik. Dit kan help dat mense wat betrokke is by veediefstal, geïdentifiseer en aangekeer word.

Die Wet op Veediefstal (Wet 57 van 1959), die Wet op Diere-identifikasie (Wet 6 van 2002) en die Wet op Dieregesondheid (Wet 7 van 2002) is belangrike wetgewing wat in ag geneem moet word wanneer diere verskuif, gekoop of verkoop word.

“Enigiemand wat in besit is van vee of veeprodukte – insluitend ’n karkas, deel van ’n karkas, vel, kop of pote – moet ’n bevredigende verduideliking rakende die oorsprong van die produkte kan verskaf. Versuim om dit te doen, kan die vermoede wek dat die items gesteel is.”

Die verdagte kon nie aan die polisie sê waar hy die vleis gekry het nie. Foto verskaf

Volgens Kruger bepaal Artikel 6(1) van die Wet op Veediefstal niemand mag diere wat gekoop of ontvang is, in besit neem sonder om ’n Artikel 6-dokument te ontvang nie.

Inligting wat op die dokument moet verskyn, sluit in die volle naam en adres van die koper en die verkoper, ’n brandmerksertifikaat, die datum van die transaksie, volledige identifikasie van die betrokke diere, en die handtekening van albei partye.

“Jy mag nie vee van ’n privaat individu of by ’n veiling koop sonder dat die dokument oorhandig word nie,” sê Kruger. “Die wet bepaal duidelik diere mag nie in besit geneem word sonder die vereiste dokumentasie nie.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.