On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse polisie deursoek vermiste kind se ouerhuis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:35 Fri, 06 Feb 2026

Noord-Kaapse polisie deursoek vermiste kind se ouerhuis | News Article
David Waterboer is al byna ’n jaar lank vermis. Foto verskaf

Die Noord-Kaapse polisie het die ouerhuis deursoek van ’n tienerseun, wat al byna ’n jaar vermis word.

Die deursoeking, as deel van ’n voortdurende soektog na nuwe leidrade, is deur forensiese beamptes en speurders uitgevoer. Dit was ’n roetine-ondersoek, wat algemeen is in sake waar iemand lank reeds vermis word. 

Geen nuwe bewyse is ontdek nie, sê kapt. Ivan Magerman, polisiewoordvoerder van Springbok.

David Waterboer. Foto: Facebook

David Waterboer (14) is laas op 25 Februarie verlede jaar gesien. “Namakwaland se taakmag was besig met roetineondersoeke by die Waterboer-woning op Nababeep. Die gemeenskap sal op hoogte gehou word soos die ondersoek ontvou.

Magerman sê hy is bewus van die gemeenskap se kommer en spoor inwoners aan om ondersoekbeamptes die ruimte te gun om leidrade op te volg.

Die gr. 7-leerder aan die Primêre Skool Sacred Heart op Nababeep, 15 km noordwes van Springbok, het gedurende die dag die huis verlaat sonder om sy broer in kennis te stel. “Hy is later na bewering raakgesien by ’n sportdagbyeenkoms op Concordia, ongeveer 20 km van Nababeep af,” het Sergio Kock, polisiewoordvoerder kort ná die voorval gesê.

David se skool het egter nie aan daardie sportdag deelgeneem nie, omdat dit slegs vir hoërskoolleerders bedoel was. Die gemeenskappe van Concordia, Nababeep en Okiep het onmiddellik ’n uitgebreide soektog na die seun van stapel gestuur en weke lank die dorpe, oop velde en omliggende berge vergeef gefynkam.

Ten tyde van sy verdwyning het David ’n swart kortbroek, ’n swart T-hemp en vlootblou sandale aangehad.

In Maart het berigte na vore gekom van ’n familielid wat glo ’n boodskap van ’n onbekende persoon ontvang het wat ’n losprys vir David eis. Ehlers het bevestig dat hoewel alle leidrade ondersoek is, geen verdere inligting uit daardie bewering voortgespruit het nie.

Beloning van R75 000

In Mei is ’n beloning van R75 000 aangebied vir inligting wat kan help om David op te spoor en tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding kan lei van diegene wat verantwoordelik is, het kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder gesê.

Saterdag (7/2) om 18:00 word ’n erediens vir David in die Rooms-Katolieke kerk in Nababeep gehou. Inwoners word gevra om dit by te woon en wit te dra ter ondersteuning van die Waterboer-familie.

Alle inligting wat aan die polisie verskaf word, sal vertroulik gehanteer word. Kontak kapt. Whynoma Love by 082 874 4532 of 027 712 8104.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.