Central SA
Twee Noordwesters in hof vir veediefstal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:34 Mon, 09 Feb 2026
Twee Noordwes-verdagtes sal na verwagting Maandag (9/2) in die hof verskyn nadat hulle met vermoedelik geslagte vleis betrap is.
Die mans (in hul 30’s) sal in die Mogwase-landdroshof naby Sun City voorkom. Hulle staan tereg op aanklagte van veediefstal en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Die verdagtes is Donderdag (5/2) in hegtenis geneem terwyl twee polisiebeamptes op patrollie was, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.
’n Groep mense het by ’n vulstasie in Tweelaagte naby Mabeskraal bymekaargekom, waarna die polisiebeamptes ondersoek ingestel het.
Vleis in hul besit
“Na verdere ondersoek is vleis in hul Ford Figo gevind. Die verdagtes kon nie ’n verduideliking gee vir die vleis in hul besit nie. Die verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem.”
Madikwe se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies kon vasstel wie die eienaar van die geslagte Brahman-koei was, aangesien sy gebrandmerk is.
Volgens Myburgh sê die eienaar sy beeste het tussen 21 Januarie en 5 Februarie in die omgewing van die Letlhakeng-nedersetting in Mabeskraal gewei. Toe hulle na die kraal terugkeer, was twee Brahman-beeste vermis.

Die vleis is in die voertuig gevind. Foto verskaf
Genl.maj. Ryno Naidoo, waarnemende polisiekommissaris, loof die gemeenskap en polisie vir hul samewerking om die twee verdagtes aan te keer.
Boere moet hul diere merk soos wat die Wet op Diere-identifikasie vereis, vra hy. “Dit help baie om eienaars van gesteelde vee te identifiseer.”
Naidoo sê die polisie sal aanhou om hard te werk om te verseker misdadigers beland agter tralies.
Veediefstal neem af
Luidens die jongste misdaadsyfers het die aangemelde gevalle van veediefstal in die tweede helfte van 2025 in talle provinsies afgeneem.
In die Noord-Kaap het veediefstalgevalle van 192 in die vorige ses maande tot 161 gedaal. Noordwes het ook ’n afname in veediefstal aangeteken. Gevalle het met 19 gedaal, van 745 in die vorige ses maande tot 726 in die jongste syfers.
Vrystaat
’n Beduidende afname in die Vrystaat is aangeteken waar veediefstalgevalle met 114 gedaal het. Die provinsie het 612 gevalle in die laaste ses maande van 2025 aangemeld, wat 117 minder is as die ooreenstemmende tydperk.
Landwyd is ook minder veediefstalle aangemeld. Polisiestatistieke toon sake het met 429 tot 6 220 gedaal.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

