Central SA
Biddiens weens toenemende ongelukke in Noord-Kaap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:56 Tue, 10 Feb 2026
Namakwalandse polisie beplan biddienste by die ingange na alle dorpe aan die N7 ná die onlangse sterftes op dié distrik se paaie.
Vyf mense het die naweek hul lewe verloor en talle ander is beseer in drie botsings op dié nasionale pad, wat strek van Kaapstad tot aan die Namibiese grens.
Brig. Schalk Andrews, Namakwa-distrikskommissaris, vra dringend alle padgebruikers, onder wie motoriste en voetgangers, moet maatreëls tref om hul veiligheid te verseker.
Verkeersregulasies
“Alle padgebruikers moet spoedbeperkings en verkeersregulasies gehoorsaam, roekelose en wedrengedrag vermy, nooit onder die invloed bestuur nie, verseker passasiers is nugter en verantwoordelik, en die padreëls te alle tye respekteer.”
Andrews is bekommerd oor die toenemende getal padongelukke in dié westelike uithoek van die Noord-Kaap. Roekelose optrede van bestuurders laat die paaie in tonele van tragedie ontaard.

“Ons sien ’n kommerwekkende tendens van padgebruikers wat jaag op die N7, veral naweke, wat algehele minagting vir verkeerswette en die veiligheid van ander toon.” Hy sê roekelose bestuur en wetteloosheid op die paaie sal nie geduld word nie.
Ondersoeke toon dronk passasiers het ’n algemene bydraende faktor in hierdie voorvalle geword, wat gevaarlike toestande op die N7 skep, aangesien hulle dikwels bestuurders se aandag aflei, roekelose gedrag soos spoed of resies aanmoedig, en die veilige werking van voertuie kan belemmer, wat die risiko van ernstige ongelukke verhoog.
Namakwaland se polisie, in samewerking met ander wetstoepassingsagentskappe, sal padveiligheid prioritiseer en die wet afdwing op alle paaie wat na dié distrik lei, sê kapt. Ivan Magerman, polisiewoordvoerder.

Niemand moet dink hulle is bo die wet verhewe nie. “Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om saam met ons te werk om ons paaie veiliger te maak.”
Diegene wat die biddienste Donderdag (12/2) om 09:00 bywoon, word versoek om swart te dra. Die dienste word beplan by dorpe soos Garies, Kamieskroon, Springbok en Steinkopf.
Landwyd het padongelukke tydens die feestyd afgeneem en die laagste syfers die afgelope vyf jaar is aangemeld, hoewel die getal steeds kommerwekkend is.

Volgens Barbara Creecy, minister van vervoer, is altesaam 1 427 mense in 1 172 padongelukke op die land se paaie dood, ’n afname van 5% teenoor die vorige feestyd.
Die Oos-Kaap en Vrystaat het afnames aangeteken, terwyl padsterftes in Gauteng, die Wes-Kaap, Mpumalanga en die Noord-Kaap toegeneem het. Sy sê die meeste padongelukke het tussen 19:00 en 01:00 plaasgevind.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

