On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Optrede geëis ná 9-jarige by Bothaville doodskok

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:26 Tue, 10 Feb 2026

Optrede geëis ná 9-jarige by Bothaville doodskok | News Article
Chris Foord. Foto verskaf

’n Politieke party eis onmiddellike aanspreeklikheid en dringende optrede om elektriese infrastruktuur te beveilig ná die dood van ’n negejarige.

Die DA op Bothaville in die Noordwes-Vrystaat wil met Saki Mokoena, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, in gesprek tree oor die beweerde nalatigheid van Nala-munisipaliteit. ’n Ontblote, gelaaide munisipale kragkabel het na bewering tot Chris Foord se dood gelei. 

Die graadtwee aan die plaasskool Loskuil, 25 km suid van Bothaville, wat sy skoolloopbaan verlede jaar aan die Laerskool Jim Fouché in Bloemfontein begin het, het Saterdag (7/2) ná ’n reënbui buite saam met sy vriende gespeel. Hy het na bewering in ’n plas water geval en, terwyl hy opgestaan het, in aanraking gekom met die kabel.


“Die versuim om basiese elektriese infrastruktuur behoorlik te onderhou en te beveilig, is ’n ernstige skending van die munisipaliteit se grondwetlike en statutêre pligte om inwoners te beskerm,” sê rdl. Thinus Barnard. Die munisipaliteit is tans onder ’n Artikel 139(1)(b) finansiële ingryping nadat hy herhaaldelik versuim het om sy geldsake te bestuur en verpligtinge na te kom.

Hierdie tragedie wek ernstige kommer oor óf die provinsiale departement van samewerkende regering, saam met die aangestelde administrateur, betekenisvolle toesig uitoefen of wettige bestuur herstel. Ten spyte van die ingryping bly inwoners blootgestel aan lewensgevaar.

Barnard het kers opgesteek by oudamptenare, elektrisiëns en private kontrakteurs om vas te stel hoe die voorval kon plaasvind en waarom basiese veiligheidsprotokolle verontagsaam.

Foto: Facebook

Voorlopige bevindinge toon dat gelaaide munisipale kragkabels in ’n openbare gebied ontbloot is en kontrakteurs moontlik substandaard en onveilige elektriese werk gelewer het. Diegene wat met elektriese infrastruktuur werk, is na bewering ongekwalifiseerd, en munisipale elektrisiëns werk glo sonder persoonlike beskermende toerusting.

Hierdie toestande kom neer op ongetwyfelde oortreding van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, wat ’n wetlike verpligting op werkgewers en staatsorganisasies plaas om ’n veilige werksomgewing te verskaf en te handhaaf, én om werkers sowel as die publiek teen skade te beskerm, sê Barnard.

“Wanneer munisipaliteite versuim om hul pligte na te kom, word gemeenskappe gedurig in gevaar gestel, van wie kinders onder die kwesbaarste is.” 

Die DA gaan ’n skrywe aan die Vrystaatse premier rig om ernstige kommer uit te spreek oor die oënskynlike mislukking van die Artikel 139-ingryping en die aangestelde administrateur om skade te voorkom en wettige regering te herstel.

’n Formele versoek sal ook by die Openbare Beskermer ingedien word om te ondersoek hoe gelaaide elektriese kabels toegelaat is om in openbare ruimtes ontbloot te bly, of verkrygingsmislukkings, nalatigheid of korrupsie ’n rol gespeel het en wie aanspreeklik gehou moet word.

Omdat Chris se ouers nie ’n begrafnisplan het nie, het hulle ’n geldinsameling gehou. Teen Dinsdag (10/02) het hulle reeds die doelwit oorskry. Begrafnisreëlings moet nog getref word.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh  

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.