On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Lewensgevaarlike hartoperasie: ‘wonderwerkbaba‘ op pad Kaap toe

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:10 Tue, 10 Feb 2026

Lewensgevaarlike hartoperasie: ‘wonderwerkbaba‘ op pad Kaap toe | News Article
Enzo Breytenbach. Foto verskaf

’n Vrystaatse baba, wat met ’n seldsame en lewensbedreigende harttoestand gediagnoseer is, sal na een van die land se voorste hospitale oorgeplaas word, waar dokters hoop om ’n hoërisiko-, maar potensieel lewensreddende, operasie uit te voer.

Die byna twee maande oue Enzo Breytenbach sal in die komende dae saam met sy ma, Geraldine van Zyl, van Welkom na Kaapstad gevlieg word om gespesialiseerde behandeling by die Rooikruis-kinderhospitaal te ontvang “Ons harte loop oor van vreugde en dankbaarheid,” sê Geraldine aan OFM Nuus.

Sy en Enzo sou aanvanklik Dinsdag (10/02) 05:00 per helikopter na Kaapstad vlieg, maar die vlug is uitgestel weens ongunstige weersomstandighede. Die vlug sal na verwagting nou laat Dinsdagmiddag of vroeg Woensdag (11/02) plaasvind.

Lewensgevaarlike hartoperasie wag op 6 weke oue ‘wonderwerkbaba‘ | News Article

Enzo Breytenbach moet ’n lewensgevaarlike opehartoperasie ondergaan. Foto verskaf

Geraldine se verloofde en Enzo se pa, David Breytenbach, is reeds op pad na Kaapstad, waar hy by hulle sal aansluit.

Enzo word as ’n wonderwerk beskou. Hy het nie net veel langer oorleef as die meeste babas wat met dieselfde toestand gediagnoseer is nie, maar dokters het ook voorheen vir Geraldine gesê sy sou nie kinders kon hê nie.

Ses weke ná sy geboorte het niks verkeerd gelyk nie. Enzo is op 4 Desember as ’n gesonde baba gebore, maar op 16 Januarie het Geraldine en haar verloofde, David Breytenbach, se lewe tot stilstand gekom.

David Breytenbach en klein Enzo, wat binnekort ’n lewensgevaarlike operasie moet ondergaan. Foto verskaf

Die baba vir wie hulle so lank gebid het, is na die pediatriese intensiewesorgeenheid in Welkom gehaas nadat dokters gesien het hy word blou tydens sy ses-weke-ondersoek. Enzo is enkele dae later gediagnoseer met ’n ernstige hartsiekte – ’n seldsame en komplekse kombinasie bekend as transposisie van die groot arteries met ventrikulêre septale defek en dubbele-uitgangsregterventrikel.

Min babas met hierdie toestand leef glo lank genoeg dat die diagnose gedoen kan word. Verskeie skanderings en sonars het die diagnose bevestig.

Dit beteken sowel die longslagaar as die aorta, die twee hoofslagare wat bloed in en uit die hart moet dra, aan die regter-hartkamer gekoppel is. ’n Opening tussen die hartkamers, wat suurstofryke bloed deur sy lyfie laat sirkuleer, help om hom aan die lewe te hou.

Geraldine van Zyl vra gebede vir hul wonderwerk-seuntjie. Foto verskaf

“Die meeste babas met hierdie toestand leef nie eers ’n maand nie,” vertel Geraldine. “As dit nie vir die gat in sy hart was nie, sou Enzo glad nie oorleef het nie. Daardie gat is al wat ons baba nou aan die lewe hou.”

Enzo is oorgeplaas na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein nadat sy ouers, wat nie ’n mediese fonds het nie, dringende spesialissorg moes bekom. David vertel dokters het hul meegedeel Enzo het dringend ’n uiters ingewikkelde opehartoperasie nodig – een van die gevaarlikste prosedures wat op babas uitgevoer word.

Slegs ’n handjie vol spesialiste in die land is in staat om dit uit te voer.

Gedetailleerde 3D skandering

“Hulle het ons daarop voorberei hy sal dalk nie die operasie oorleef nie,” sê Geraldine. “Maar ons weier om ons gedagtes daarheen te laat gaan. Ons staan vas in die geloof dat hy dit sal maak.”

Op 21 Januarie het die dokters aan die paartjie gesê dit kan ongeveer tien dae neem om die volle spesialisspan byeen te bring wat vir die komplekse prosedure benodig word. “Dit is noodsaaklik dat elke betrokke dokter, verpleegster en personeellid van begin tot einde deel van die proses is, sodat almal die plan en elke stap van die operasie ten volle verstaan,” sê Geraldine.

’n Gedetailleerde 3D skandering van die baba se hart is ook gedoen om dokters te rig in besluite oor die beste pad vorentoe.

Baba Enzo was vir ses weke gesond voordat hy gediagnoseer is. Foto verskaf

Die operasie behels die aorta en pulmonale arterie moet terug na die korrekte posisies verskuif word en die ruimte tussen die hartkamers toegemaak word – die einste opening wat Enzo tans aan die lewe hou. Die grootste risiko lê in die klein kransslagare wat aan die aorta geheg is, wat uiters broos is en nie tydens die prosedure beskadig moet word nie.

“Die dokters sê daardie klein slagare is broos en moet glad nie beskadig word nie. Dis hoekom hierdie operasie so gevaarlik is,” verduidelik David.

Ten spyte van die risiko’s het dokters dit duidelik gemaak die operasie sal moet plaasvind. Die dokters het die paartjie reeds voorberei op wat die uitkoms sal wees sou dit nie gebeur nie.

Hands of Grace

Enzo is tans stabiel en ontvang suurstof om die druk op sy hart te verminder terwyl planne gefinaliseer word.

’n Nuutgestigte organisasie sonder winsoogmerk, Hands of Grace, is ook betrokke nadat hulle van Enzo se storie gehoor het. Hy is ’n kind uit hul eie gemeenskap, sê Chantelle van der Berg van Virginia.

Die organisasie het Saterdag (7/02) ’n boereworsrol-fondsinsamelingsdag in Virginia gehou om die gesin te ondersteun, en 258 worsrolletjies verkoop. “Dit klink dalk nie na veel nie, maar ons het daarin geslaag om amper R10 000 in te samel.”

‘Hierdie is ons seuntjie en hy is ons alles’

Van den Berg sê fondsinsamelingspogings word deurlopend gehou met items soos plakkers en lootjies wat te koop is, sowel as ’n koek wat ondersteuners kan wen.

“Hierdie is ons seuntjie en hy is ons alles,” sê Geraldine. “Ons enigste gebed op die oomblik is dat hy die operasie oorleef en saam met ons huis toe kom. Ons wil hom voor ons oë sien grootword.

“Moet asseblief nie ophou bid nie,” vra sy.

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.