Central SA
Theo Venter glo sy kans is goed om JB Marks te lei─── 14:53 Tue, 10 Feb 2026
Die ontleder Theo Venter glo hy het ’n realistiese kans om die JB Marks-munisipaliteit se nuwe burgemeester te word ná die komende plaaslike verkiesing teen einde vanjaar.
“Ek sou nie hierdie uitnodiging aanvaar het om die DA se kandidaat vir die burgemeesterspos te word as ek nie baie mooi gekyk het wat aangaan nie,” sê Venter in ’n onderhoud met OFM Nuus. Hy sou nie ná 40 jaar as politieke ontleder die politiek betree het as daar nie hoop was nie.
“Die ANC en die DA-geleide koalisie is een of twee stemme uitmekaar in die plaaslike raad. En al hoe die ANC regeer, is met die koalisie wat hulle het met die PA het.”

Die stadsaal in Potgieterstraat, Potchefstroom, hoofsetel van JB Marks. Foto: Wikipedia
Hy verwys na die PA se dreigement so ’n maand of drie geleenthede om uit sy koalisies met die ANC se onttrek.
“Een van die grootste aspekte van die dreigement was dat hulle uit die koalisie in Potchefstroom of in JB Marks gaan onttrek, want as hulle onttrek met hul twee of drie kandidate, dan sou die ANC-regering hier tot ’n val gekom het. So dit was ’n baie sterk dreigement wat die PA gehad het en die ANC het uiteindelik toegegee.”
Die agteruitgang van dienslewering is nog ’n aspek wat dit moontlik maak dat daar ’n verandering aan die stuur van sake in JB Marks kan kom. “Sedert 2012 is die posisie tussen die ANC en die DA in die raad van die JB Marks Munisipaliteit ’n baie, baie nou betwiste saak.” Dienslewering wat stadig maar seker agteruitgaan, asook die finansiële posisie wat al slegter word, verhoog die kanse.
Formele veldtogte
Nog ’n faktor is dat die DA vroeg reeds met sy veldtog in sekere sleutelgebiede begin. “Die ANC het tans ’n meerderheid van twee raadslede bo die koalisie tussen die DA en die Vryheidsfront Plus. En ek dink daardie situasie kan beslis verander met ’n goeie veldtog.”
In JB Marks, maar ook plekke soos Mangaung waar daar potensiaal is om die leierskap oor te neem, begin die DA vroeg met sy veldtog. Die formele veldtogte begin eintlik eers met die verklaring van die verkiesing deur publikasie in die Staatskoerant, gewoonlik 90 dae voor die verkiesingsdatum.
“Ons is reeds besig met die DA se veldtog, agt of nege maande voor die verkiesings, wat ons verwag êrens in November sal wees.”

’n Skermgreep van Theo Venter se X-rekening.
Wat is die eerste sake waaraan hy aandag sal gee sou hy burgemeester word?
“’n Groot deel van die eerste fase van my veldtog gaan wees om van wyk tot wyk te beweeg en te hoor wat pla, sodat ’n mens net ’n behoorlike opsomming daarvan het.” Venter sê die geldsake van Potchefstroom is hoog op sy agenda.
“En daarmee saam natuurlik uitstaande vraagstukke van die Ouditeur-generaal wat onbeantwoord bly, al vir ’n paar jaar, en wat Potchefstroom se hele finansiële profiel verswak het. So dit moet hanteer word.”
Skeiding van Potcheftroom, Ventersdorp
Ook van belang is die omstrede samevoeging van Potchefstroom en Ventersdorp.
“Toe dit die eerste keer voorgestel is, het die Afbakeningsraad dit van die hand gewys omdat dit nie ’n goeie idee is nie. Maar die destydse minister van plaaslike regering, niemand minder nie as Pravin Gordhan, het dit nieteenstaande goedgekeur.”
Redelik onlangs het die Afbakeningsraad gesê om Potchefstroom en Ventersdorp te skei, is waarskynlik die aangewese ding, maar kan eers ondersoek word ná die verkiesing.
‘Die burgemeesterketting is weg’
“Daar is tans ’n regsaksie van Potch oor hierdie besluit. Dis ’n regsaksie wat ons deel met Maluti-a-Phofung, die inwoners van Harrismith, want hulle sit met ’n soortgelyke teenstrydige antwoord.”
Op ligter noot wil hy aandag gee aan die burgemeester se ampsmotor en -ketting. “Dit mag dalk onbenullig klink, maar ’n ou raadslid het my gebel en gesê ‘onthou, die burgemeesterketting is weg en ons kan nie die burgemeester se voertuig kry nie.’
“So miskien sal dit die eerste ding wees wat ek op dag een doen – net om vas te stel of daardie dinge nog bestaan en waar hulle is.”
Mense soek verandering
Venter sê wat hy werklik bemoedigend vind, is die reaksie wat hy ontvang het op sy aanwysing as burgemeesterskandidaat.
“Uit die honderde gelukwensings wat ek gekry het, is dit veral die gelukwensings uit swart en bruin geledere wat my hart warm maak – die hoeveelheid stemme wat na my toe gekom het via SMS-boodskappe of e-pos – sê vir my daar is tans ’n soeke na mense wat ’n verandering kan maak. Dit is nie ’n soeke na wit, bruin of swart nie.
“Dit is nie meer ’n soeke na kleur soos tien of 15 jaar gelede nie; nou is dit ’n soeke na wie kan help. Ek het myself beskikbaar gestel om te kyk of ek iets daaraan kan doen, om die hoop (op ’n beter lewe) ’n beter kans te gee.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

