Click on the warning image to view this post
Central SA
Vrystater gevonnis weens varke in gru-omstandighede─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:04 Wed, 11 Feb 2026
Die vonnisoplegging van ’n Vrystater, wat varke verwaarloos en mishandel het, moet as waarskuwing dien dat dieremishandeling nie geduld sal word nie.
April Molehe is Woensdag (2/4) in die landdroshof op Dealesville in die Wes-Vrystaat skuldig bevind. Hy is ’n boete van R2 000 opgelê of agt maande gevangenisstraf, in die geheel opgeskort vir drie jaar.
Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het in September 2023 ’n klagte ontvang oor ’n ondraaglike stank van varkhokkies op ’n eiendom in die omgewing van Dealesville. Na bewering is karkasse en ook net so op die perseel gelos.

Die varke het geen kos of water gehad nie. Foto verskaf
Duan Coetzee, senior inspekteur van die NDBV se beskermingseenheid vir plaasdiere, het ’n ondersoek ingestel. “Varke is in haglike toestande op die eiendom aangehou en het weens uiterste honger op die karkasse van ander varke gevreet,” sê hy.
Talle diere was erg ondergewig en het hulle aan pynlike veltoestande gely, waaronder korsagtige en ontsteekte vel weens langdurige sonblootstelling en onbehandelde wonde. Nadere ondersoek het aan die lig gebring dat die varke geen toegang tot water gehad het nie.
Die houers in die hokke was leeg en gevul met droë grond. Die NDBV beweer die varke was geruime tyd sonder water.
Blootgestel aan elemente
“Daar was geen skuiling om die diere teen die elemente te beskerm nie, en verskeie varke het tekens van ernstige sonbrand getoon.”
Coetzee het glo probeer om die eienaar raad te gee oor die behoorlike versorging van varke. Hy het egter afwysend gereageer, gelag en gesê Coetzee moenie sy tyd mors nie.
’n Opvolginspeksie, saam met die polisie, is later met ’n lasbrief uitgevoer. Geen verbeterings is aangebring nie. Daar is op altesame elf varke beslag gelê.
Strafregtelike oortreding
“Een erg verswakte sog is op die perseel humanitêr van kant gemaak om verdere lyding te voorkom,” sê Coetzee. “Die oorblywende varke is deur die staatsveearts ondersoek, wat bevestig het dat hulle ondergewig is en aan beserings en onbehandelde veltoestande ly.”
Die NDBV sê die skuldigbevinding herbevestig dieremishandeling is ’n strafregtelike oortreding met wetlike gevolge.
“Die NDBV is diep ontsteld oor die omvang van lyding wat hierdie diere verduur het. Om deur honger gedryf te word om aan dooie varke te vreet, is ’n vlak van wreedheid wat voorkombaar en heeltemal onaanvaarbaar is.”
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

