Central SA
DA-kandidaat steun skeiding van Potch, Ventersdorp─── 14:02 Wed, 11 Feb 2026
Die geforseerde samevoeging van Potchefstroom en Ventersdorp was ’n fout, en hy ondersteun die stappe om dit reg te stel, sê die DA se burgemeesterskandidaat vir die JB Marks-munisipaliteit, waarin dié twee dorpe val.
Politieke ontleder Theo Venter is ná 40 jaar as politieke ontleder onlangs aangewys as die DA se kandidaat vir dié burgemeesterstoel. Hy sê die samevoeging van die twee dorpe was ’n omstrede projek en selfs die Afbakeningsraad het dié oorspronklike voorstel afgekeur.
“Maar die destydse minister van plaaslike regering, niemand minder nie as Pravin Gordhan, het dit desnieteenstaande goedgekeur.” Die Afbakeningsraad het pas weer oor die saak besin.

’n Plasing oor Venter se kandidatuur op Facebook. Foto: Facebook/Theo Venter
“Hulle het met ’n baie interessante antwoord gekom. Hulle het gesê die skeiding van Potch en Ventersdorp is waarskynlik die aangewese roete, maar dit is iets wat eers ondersoek kan word ná die verkiesing.”
Venter sê daar is tans ’n regsaksie aan die gang vanuit Potchefstroom oor die besluit, saam met inwoners van Harrismith oor dié dorp se insluiting by Maluti-a-Phofung in die Oos-Vrystaat, wat in ’n soortgelyke situasie is en dieselfde antwoord ontvang het.
“Ek ondersteun daardie regsaksie en sal hou by die besluit wat die howe hieroor neem. Maar ter wille van die status quo, wanneer ek ná die verkiesing burgemeester word – as ek so gelukkig is – sal dienste steeds aan Ventersdorp gelewer word soos tans die geval is.

’n Straattoneel in Ventersdorp. Foto: Wikimedia
“Maar ons moet kyk waarheen die regsaksie ons vat. Die dilemma is: Wat maak jy met ’n klein dorp soos Ventersdorp? Hy kan nie werklik inskakel by Klerksdorp nie. Klerksdorp of Matlosana is ook in ’n baie swak finansiële situasie.
“Hy kan ook nie inskakel ten noorde by Ditsobotla (Coligny en Lichtenburg) nie, hulle het in werklikheid in duie gestort. Ek het ’n gevoel vir Ventersdorp, maar wat Ventersdorp gedoen het aan Potchefstroom, is om die bates wat ons gehad het, ook alles leeg te trek, omdat geen betaling plaasvind vanuit die Ventersdorp-omgewing nie.
“’n Paar van die vaste inwoners van die ou Ventersdorp betaal nog hul munisipale rekenings, maar hul betaalkoers is nie volhoubaar nie.”
As liberalis uitgekryt
Hoewel kommentaar op sosiale media wys hoe hoog Venter aangeslaan word as politieke kommentator, word hy ook as liberalis uitgekryt.
“Daar is ’n hele paar woorde wat in die politiek gebruik word wat ’n mens behoorlik moet omvorm,” sê hy.
“As ‘liberalis’ beteken dat ek betrokke was by die swart gemeenskappe in die land, by die bruin gemeenskappe en by die Indiër-gemeenskappe; as my liberalisme ’n teken is daarvan dat ek brûe wou bou tussen wit, swart en wie ook al – wel, dan aanvaar ek daardie label met groot vreugde.

’n Mislukte behuisingsprojek op Ventersdorp. Foto: SABC News
“Dis wat ek gedoen het die laaste 30, 40 jaar, en ek het op verskillende plekke rolle gespeel om mense bymekaar te bring. So ja, ek het dit gedoen.”
Hy verwag beslis kritiek. Ná die aankondiging van sy kandidatuur was 99% van die boodskappe positief wat hy ontvang het. “Een persent was negatief. Maar ek dink dis normaal.
“Ek dink ’n mens moet aanvaar: as jy in ’n openbare amp staan, kan jy nie verwag dat almal net aan jou kant moet wees nie. Jy moet ook die kritiek hanteer wat van die ander kant af kom.
‘Die mense in Ventersdorp wat ek ken, is gewone mense’
Verwag hy sterk teenkanting vanuit Ventersdorp, gegewe dié dorp geskiedenis?
“Ventersdorp wil ek miskien net in perspektief stel. Die feit dat Eugene Terre’Blanche en Ventersdorp saam op die verhoog geplaas is, is deel van ’n geskiedenis van 30, 40 jaar gelede.
“Die mense in Ventersdorp wat ek ken, is gewone mense – die groot boere rondom. Daar is baie min van daardie tradisie van destyds oor in daardie omgewing, en dit is hoekom ek sê ek sal as burgemeester met groot graagte die dienste lewer aan Ventersdorp soos wat dit moet gedoen word, en beter as wat dit tans bedoel word.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

