On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse tweeling benodig hulp vir hul krieketdroom

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:33 Thu, 12 Feb 2026

Noord-Kaapse tweeling benodig hulp vir hul krieketdroom | News Article
Die Noeth-tweeling van Kuruman. Foto verskaf

Al word hul ver in die Kalahari groot waar geleenthede om raakgesien te word skaars is, het ’n tweeling se talent en deursettingsvermoë die deur oopgemaak na ’n oorsese toer.

Janko en Louhan Noeth (17), gr. 12-leerders aan die Hoërskool Kalahari op Kuruman, berei hulle voor vir wat ’n deurslaggewende oomblik in hul krieketloopbaan kan wees. Dié toer na Engeland, van 26 Junie tot 6 Julie, kan hul toekoms in dié sport vorm.

Die broers se liefde vir krieket het op ’n jong ouderdom begin. In gr. 1 het hulle minikrieket begin speel, toe hul natuurlike talent reeds duidelik was, vertel hul ma, Stelle-Mari Noeth. “Hulle kon dadelik ’n bal slaan.”

Janko en Louhan Noeth het 'n geleentheid van 'n leeftyd gekry. Foto verskaf

Dis egter nie die eerste keer wat die broers die kans kry om oorsee te speel nie. Uitnodigings het in vorige jare hul kant toe gekom, maar omstandighede het dit onmoontlik gemaak om dit te aanvaar. Hierdie keer is dit anders.

“In Januarie het Kalahari deelgeneem aan die Kovsies Smash-toernooi in Bloemfontein, waar agente van Aspire Sport Travel teenwoordig was. 

Ná die toernooi is die broers deur ’n agent genader en genooi om by die Engeland-toer aan te sluit,” sê Johan Noeth, hul pa.

Louhan Noeth in askie. Foto verskaf

Toe hulle die nuus kry, was hul reaksie ’n mengelmoes van emosies. Hulle was onseker of dit weer ’n geleentheid sou wees wat by hulle sou verbygaan, maar aangesien dit hul laaste jaar op skool is, het hulle geweet hulle moet dit met albei hande aangryp.

“Hierdie geleentheid sal nie weer oor ons pad kom nie,” sê die broers. “Die kans om internasionale ervaring op te doen en selfs om voet te sit op ikoniese velde soos Lord’s en Twickenham is iets wat ons nooit gedink het moontlik sou wees nie.”

Janko Noeth se krietketloopbaan kan in 'n oogwink verander. Foto verskaf

Vir Janko en Louhan gaan die toer oor meer as net krieket speel. Dit verteenwoordig groei, blootstelling en die kans om hul skoolkrieketloopbaan op ’n hoë noot af te sluit.

Die Noeth-gesin samel geld in om die koste vir die toer te dek. Die totale koste vir beide om deel te neem is R130 000, en tot dusver is baie min ingesamel. Die afsnydatum vir betaling is 25 Mei, wat die gesin met beperkte tyd laat om die nodige geld te bekom.

“Aan die mense wat ons reeds ondersteun het, woorde is min, maar dankbaarheid is groot,” sê Stelle-Mari.

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.