On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Hoë verwagtinge vir Ramaphosa se 10de staatsrede

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:01 Thu, 12 Feb 2026

Hoë verwagtinge vir Ramaphosa se 10de staatsrede | News Article
President Cyril Ramaphosa. Foto: BBC

Die tiende staatsrede word Donderdag (12/2) in die Kaapstadse stadsaal gelewer, maar politici en akademici is van mening Suid-Afrikaners stel minder belang in beloftes en eis beslissende optrede veral as dit kom by dienslewering.

President Cyril Ramaphosa sal na verwagting probleme aanpak oor toenemende frustrasie weens munisipaliteite wat in duie stort, watertekorte, onbetroubare elektrisiteit, swak ekonomiese groei en ’n gebrek aan aanspreeklikheid vir korrupsie. Dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse leier en hoofwoordvoerder oor minerale en petroleumbronne, sê die staatsrede gee tradisioneel die toon aan vir die jaar se parlementêre werk, maar vanjaar dra dit bykomende politieke gewig. 

“Die president praat nie net as staatshoof nie, maar ook as leier van die regerende party in ’n verkiesingsjaar. Die ANC sal wil bewys hy is stewig in beheer en in staat om stabiliteit te bied.”

Dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse leier en hoofwoordvoerder oor minerale en petroleumbronne. Foto Facebook

Hy verwag ’n sterk fokus op plaaslike regering, veral planne om sukkelende munisipaliteite reg te ruk, maar waarsku “ons sal beslis die beloftes hoor –  of enigiets tasbaars daaruit kom, is ’n ander saak.” Boshoff erken ekonomiese aanwysers lyk beter as ’n jaar gelede, maar beklemtoon baie van die verbetering word deur eksterne faktore gedryf.

“Die goudprys wat buite Suid-Afrika se beheer is, is ’n belangrike bydraer tot die huidige prestasie, asook om van die gryslys af te kom.” Hy waarsku die regering kan moontlik probeer om krediet te eis vir ontwikkelings wat grootliks deur wêreldwye toestande beïnvloed word.”

Hy glo ook die bek-en-klouseerkrisis vereis dringende aandag. “As hierdie krisis verder verdiep kan die gevolge ernstig wees.”

Jan de Villiers, nasionale DA-woordvoerder. Foto Facebook

Volgens hom is Ramaphosa nou op ’n stadium waar die beskerming en vorming van sy nalatenskap waarskynlik ’n prioriteit is wat kan lei tot herhaalde verwysings na prestasies sedert 2018.

Boshoff bevraagteken egter of Suid-Afrikaners die land wat in die toespraak beskryf word, sal herken. 

“Soms luister mens en wonder of ons in dieselfde land leef wat beskryf word. Dit beklemtoon die gaping wat dikwels tussen die amptelike beskrywing en die alledaagse werklikheid bestaan.”

Benodig meetbare stappe

Die DA het intussen dit duidelik gemaak hy verwag streng verbintenisse en konkrete hervormings van die president.

Jan de Villiers, nasionale DA-woordvoerder, sê die tyd vir mooi toekomsverklarings is verby. “Hierdie staatsrede moet werklike aksie lewer om die ekonomie te laat groei. 

“Suid-Afrikaners het nou duidelike planne en meetbare stappe nodig – eerder as nog beloftes.”

Prof. Sethulego Matebesi van die Universiteit van die Vrystaat. Foto Facebook

De Villiers sê hulle verwag sleutelhervormings soos die vervanging van swart ekonomiese bemagtiging met beleggingsvriendelike beleide, die oopmaak van paaie, hawens en spoorweë vir private operateurs, die beëindiging van kaderontplooiing, die desentralisering van polisiëringsmagte en die beëindiging van Eskom se monopolie om energiestabiliteit te verseker.

Hy doen ook ’n beroep op die professionalisering van die staatsdiens en beklemtoon “amptenare moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir korrupte en verkwistende uitgawes”.

As die grootste vennoot in die regering van nasionale eenheid (RNE), het die DA hoë verwagtinge vir Ramaphosa gestel. “Ekonomiese groei kan nie ontsluit word sonder dapper besluite nie,” waarsku De Villiers.

Positiewe ontwikkelings

Die party hoop die president sal wegbly van beleidsaankondigings wat werkgeleenthede kan vernietig of die ekonomie verder kan benadeel.

Prof. Sethulego Matebesi van die Universiteit van die Vrystaat, glo die president sal waarskynlik fokus op positiewe ontwikkelings, insluitend die stabilisering van Eskom en verbeterings by sommige staatsondernemings wat die regering as gevolg van doelbewuste ingryping sal aanbied.

Matebesi sê die voortslepende waterkrisis kan nie geïgnoreeie. “Ons kan nie aanhou praat oor miljarde rand vir waterinfrastruktuur as sterk bestuur en behoorlike implementering ontbreek nie.”

Hy bevraagteken of verhoogde begrotings alleen die probleem sal oplos.

Matebesi sê korrupsie en wanbestuur is groot bedreigings vir enige werklike herstelpoging. “As daar nie toesig en aanspreeklikheid is nie gaan selfs die grootste begroting nie die krisis oplos nie.”

Hy verwag ook Ramaphosa sal die swak toestand van munisipaliteite in Gauteng bespreek waar watertekorte en swak funksionerende infrastruktuur ernstige bestuursmislukkings uitwys. “Dit is onaanvaarbaar dat basiese dienste in ons ekonomiese kerngebied so agteruitgaan.”

Geopolitieke posisionering

Internasionale betrekkinge, insluitend Suid-Afrika se geopolitieke posisionering en voortgesette regs- en diplomatieke uitdagings, sal volgens hom waarskynlik ook prominent aandag geniet.

“Vordering op papier is nie genoeg nie. Suid-Afrikaners wil dit in hul daaglikse lewe sien.”

Aanspreeklikheid, dienslewering en tasbare verbetering is volgens Matebesi nou die ware maatstaf van sukses.

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.