On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

GKSA stig fonds vir skool- en koshuisgeld vir boere in nood

───   11:00 Fri, 13 Feb 2026

GKSA stig fonds vir skool- en koshuisgeld vir boere in nood | News Article
In sommige dele, soos op dié plaas in die Oos-Vrystaat, bring die reën vertroosting ondanks die swaard van bek-en-klouseer. Foto: Fritz Potgieter

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het ’n fonds gestig om boere met veral kinders se skool- en koshuisgeld by te staan te midde van die geweldige druk wat hulle beleef, veral nou met die bek-en-klouseer-uitbreking.

Die land se boere verkeer al vir etlike jare onder groot druk om verskillende redes, sê ds. Fritz Potgieter, leraar van die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suid en voorsitter van die GKSA se deputate diakonale sake (DDS). Hy verwys na onder meer hoë insetkostes, swak graanpryse, swak vleispryse, ongunstige weerstoestande, ’n uitvoermark wat glad nie gesond is nie en hoë rentekoerse.

“Dit alles het veroorsaak dat boere onder geweldige druk is, en iets soos bek-en-klouseer is nou half die finale strooi wat die kameel se rug breek, as ek dit so mag uitdruk.”

As ’n boer ’n bek-en-klouseer-uitbreking op sy plaas het, word hy dadelik onder kwarantyn geplaas. “Die implikasie is dat hy vir etlike maande niks kan verkoop nie. As hy iets wil verkoop, moet hy dit laat slag. Dit bring groot uitdagings mee, veral ten opsigte van kontantvloei – altyd ’n boer se grootste uitdaging.”

Ds. Fritz Potgieter is leraar van die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suid en voorsitter van die GKSA se deputate diakonale sake. Foto verskaf

Potgieter verduidelik hoe dit gewoonlik in die landbou werk. “As die einde van die maand nader kom, soek ek ’n paar ooie uit of ’n paar speenkalwers wat op gewig is. Dan verkoop ek hulle en gebruik daardie geld om lone te betaal, die kinders se skoolgeld, doktersrekeninge, kos vir die maand en voer vir die diere. Bek-en-klouseer het dit nou geweldig moeilik gemaak. Daarby het daar geen hulp van die regering gekom nie.” 

Wat bek-en-klouseer vererger, is dat dit ’n siekte is wat reproduksie aanval. “As daar ’n uitbreking op jou plaas is, verloor baie koeie hul melk. Die kalf wat daardie koei grootmaak, gaan swakker wees. Volgende seisoen gaan dit ook ’n impak hê, want jou konsepsie op die koeie is laer. Dit is ’n kettingreaksie – nie net vir hierdie seisoen nie, maar ook vir die volgende jaar en die jaar daarna.” 

Dit is ook ’n geweldige duur siekte en word daarom deur die staat beheer.

Die siekte het egter ook ’n wyer impak as net geldelik. “Dit het ook ’n emosionele en geestelike impak. ’n Boer is lief vir sy diere. Hy versorg hulle na die beste van sy vermoë, met groot onkoste en moeite. Om jou diere siek, in pyn en swak te sien, is glad nie lekker nie.” 

Veral melkboere word geweldig geraak. “Die hoë-digtheid-omgewing waarin melkbeeste verkeer, maak dat die siekte vinnig versprei. Hulle raak baie sieker as vleisbeeste. 

“Mense het dalk al die video’s en foto’s gesien waar boere hul hele kudde moet van kant maak, omdat die diere te siek en seer is en die kans op herstel nie bestaan nie. Dit het ’n geweldige emosionele en geestelike impak.”

Teen hierdie agtergrond is besluit om die fonds te stig. “Ons het besluit om ons boere te probeer help – al is dit hoe klein – om vir hulle te sê: Ons dink aan julle, julle is nie alleen nie. In die eerste plek bid ons vir hulle, maar ons wil ook op ’n tasbare manier help.”

Brief aan gemeentes

Die DDS het ’n brief onder gemeentes versprei en daarin genoem die fonds is om boere by te staan om te sorg dat hul kinders steeds skool toe kan gaan en in die koshuise kan bly. 

“Diegene wat kinders op skool het, weet hoe geweldig duur dit is om ’n kind op skool en in ’n koshuis te hou. Baie van ons boere se kinders is dan ook in koshuise.

“Tydens die geweldige droogtes in die Noord-Kaap het ons besef hierdie nood ontstaan onder boere. Omdat hulle sukkel met kontantvloei, is daar nie noodwendig geld om die skool- en koshuisgelde vir die kwartaal te betaal nie. Baie boere het selfs oorweeg om hul kinders tuis te onderrig, omdat hulle dit nie kon bekostig nie.”

‘Daar is ook ’n emosionele en geestelike komponent’

“Destyds het ons saam met skole en gemeenskappe gewerk om boere te help wat werklik in nood verkeer. Hierdie keer het ons besluit om dieselfde weg te volg. Nie dat ons net daarmee sal help nie – waar ander nood ontstaan, kyk ons ook. Ons hanteer elke geval op sy eie meriete. 

“As daar ander wyses is hoe ons van hulp kan wees, kyk ons hoe ons dit kan hanteer.” 

Die benadering is om deur plaaslike gemeentes te werk. “Soos ek gesê het: dit is nie net ’n finansiële krisis nie – daar is ook ’n emosionele en geestelike komponent daaraan. 

“So wil ons deur die gemeenskap van gelowiges mekaar nie net op ’n tasbare manier help nie, maar ook geestelik en emosioneel ondersteun. Ons is uiteindelik broers en susters in Christus, en ons wil mekaar op hierdie manier ondersteun en help sover ons kan.

Die GKSA hoop boere sal moed skep danksy die fonds wat gestig om hulle veral met skool- en koshuisgeld by te staan. Foto: Fritz Potgieter

“Ons bede is dat hierdie hulp, hoe gering ook al, vir ons boere ’n sigbare, tasbare bewys is dat ons aan hulle dink, dat ons hul swaarkry en hartseer in hierdie omstandighede raaksien, en dat ons daar is vir hulle. 

“Ons waardeer die moeite wat hulle elke dag insit om vir ons kos op die tafel te sit. Dit gaan nie ongesiens verby nie.”

Vir navrae, nader Anri Kotzee, die DDS se skakeldeputaat, deur ’n e-pos te stuur.

Binne die DDS is ’n maatskappy gestig wat ’n NPO is en 18A-sertifikate kan uitreik vir diegene wat wil bydra en ’n belastingvoordeel daaruit wil put.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.