Central SA
NWU, Kovsies onder 10 topuniversiteite suid van Sahara─── 12:37 Fri, 13 Feb 2026
Verskeie Suid-Afrikaanse universiteite is opgeneem in die heel eerste QS Wêrelduniversiteiteranglys – Sub-Sahara Afrika, wat pas uitgereik is.
Boonop is twee universiteite in Sentraal-Suid-Afrika, die Noordwes-Universiteit (NWU, sewende) en Universiteit van die Vrystaat (UV, negende), onder die toptien universiteite op die ranglys. In Suid-Afrika is 14 universiteite geëvalueer.
Quacquarelli Symonds (QS), ’n toonaangewende verskaffer van dienste, ontledings en insigte vir die hoëronderwyssektor wêreldwyd, sê in die eerste uitgawe van die ranglys vir Afrika suid van die Sahara is 69 universiteite uit 21 lande ingesluit.
Die ranglys bied volgens QS ’n nuwe manier om prestasie, vooruitgang en geleenthede in Afrika se universiteitswese te verstaan.

Die Noordwes-Universiteit is onder die top-sewe in Afrika suid van die Sahara, volgens die QS Wêrelduniversiteiteranglys Foto: Facebook/NWU North West University
Die meeste topuniversiteite is van Suid-Afrika:
- Universiteit van Kaapstad
- Universiteit van Johannesburg
- Universiteit van die Witwatersrand
- Universiteit Stellenbosch
- Universiteit van Pretoria
- Universiteit van KwaZulu-Natal
- Noordwes-Universiteit
- Universiteit van Ghana
- Universiteit van die Vrystaat
- Universiteit van die Wes-Kaap.
Die Rhodes-Universiteit en Nelson Mandela-Universiteit is ook onder die top-20.
Ander presteerders sluit in:
Die Universiteit van Ibadan (Nigerië), 11de, Addis Abeba-Universiteit (Ethiopië), 13de, Makerere Universiteit (Uganda), 16de, en Universiteit van Nairobi (Kenia), 17de.

Kovsie-studente gereed vir die 2026- akademiese jaar. Die Unversiteit van die Vrystaat is onder die 10 topuniversiteite in Afrika suid van die Sahara. Foto: Facebook/University of the Free State
QS sê die feit dat instellings uit ses lande in die top-20 is, “wys dat uitnemendheid nie tot een nasionale model beperk is nie”.
Wat die metodologie en fokus betref, is die ranglys aangepas vir die streek en sluit dit bykomende aanwysers in soos aanhalings per artikel, artikels per dosent, personeel met doktorsgrade en internetimpak.
Meer gewig is gegee aan werkgewerreputasie, internasionale navorsingsnetwerke en volhoubaarheid, terwyl akademiese reputasie en student-dosent-verhouding minder gewig dra.
Eilande van uitnemendheid
QS sê voorts die verslag toon daar is leierskap om volhoubare prestasie te verseker, maar vordering hiermee verskil van instelling tot instelling. Daar is eilande van uitnemendheid, maar ook instellings wat versterk moet word.
Wat navorsing betref, presteer Suid-Afrika en Nigerië goed, veral wat akademiese reputasie, aanhalings per artikel en artikels per dosent betref. Ghana en Kenia toon ook mededingende resultate.
QS sê hierdie eerste uitgawe vestig die grondslag vir toekomstige vergelykings en ontwikkeling. Soos meer instellings deelneem, sal die ranglys ’n ryker beeld van Afrika se hoër onderwyslandskap bied en samewerking en deursigtigheid bevorder.
‘Universiteit se groeiende invloed in navorsing, volhoubaarheid en internasionale samewerking’
Die NWU sê in ’n mediaverklaring die NWU se algehele telling van 80 plaas die universiteit stewig onder die streek se beste instellings.
Die NWU het veral goed gevaar in:
- Internasionale navorsingsnetwerk: 97,2
- Volhoubaarheid: 95
- Aanhalings per artikel: 93
- Werkgewerreputasie: 72
- Akademiese reputasie: 66,1
“Hierdie resultate bevestig die universiteit se groeiende invloed in navorsing, volhoubaarheid en internasionale samewerking.”
Prof. Mzubanzi Bismark Tyobeka, rektor en visekanselier, sê die ranglys toon die universiteit se groeiende reputasie en impak in die streek. Hy glo nuwe inisiatiewe soos die Desmond Tutu Skool vir Geneeskunde, die Skool vir Mynbou en Mynbou-ingenieurswese, en die Skool vir Veeartsenykunde, sal die NWU se posisie verder versterk.
In die QS se Internasionale Wêrelduniversiteiteranglys wat in Junie 2025 gepubliseer is, is die NWU onder die agt topuniversiteite in Suid-Afrika en die top-16 in Afrika. Daardie ranglys het 1 501 universiteite uit 105 lande ingesluit.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

