Central SA
Kimberley-ma veg teen kanker vir haar gesin─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:46 Fri, 13 Feb 2026
Wat veronderstel was om die begin van ’n hoopvolle nuwe jaar vol belofte te wees, het ’n onverwagte wending geneem vir ’n vrou van die Wes-Vrystaat.
Verlede maand het Jani Neethling (38) se lewe in ’n oogwink verander toe servikale kanker by haar gediagnoseer is. As ’n ma van drie het die diagnose haar laat besef hoe vinnig die lewe kan verander.
Dit beteken ook dat sy daagliks die emosionele en finansiële uitdagings moet trotseer en haar gesin dit saam met haar dra.

Jani veg teen kanker vir haar gesin. Foto verskaf
Jani woon saam met haar verloofde, Drikus, en haar drie kinders op ’n plaas naby Jacobsdal. Sedert sy met behandeling begin ontvang het, het haar lewe ’n weeklikse pendel tussen die plaas en Kimberley geword, maar dikwels ook Bloemfontein toe vir gespesialiseerde sorg.
Voor haar diagnose was Jani ’n besige en betrokke ma met ’n vol lewe. “Ek het in Kimberley gewerk. Daagliks ingery en tyd gemaak vir gemeenskapswerk wanneer ek kon. Om mense in nood te help is deel van wie ek is.”
Die eerste tekens dat iets fout was, was simptome wat eenvoudig nie wou weggaan nie. “Met ’n besige en aktiewe lewe het ek my gesondheid verwaarloos en nie die nodige aandag aan dit gegee nie.”
Vrees en onsekerheid
Nadat kanker in Oktober by ’n familielid gediagnoseer is, het sy besluit om haar deeglik te laat ondersoek. Die uitslae het haar ergste vrese bevestig. Fase 2B- servikale kanker is by haar gediagnoseer.
“Die nuus was oorweldigend. Ek was gevul met vrees en onsekerheid. My eerste gedagtes was: ‘Wat van my kinders? Wat van my familie?’” Op daardie oomblik het sy ’n besluit om te baklei, vir hulle.
Jani ondergaan tans chemoterapie en begin met bestralingsbehandeling. Met ondersteuning van openbare én private gesondheidsorg kon sy met behandeling begin. Maar die reis is nog lank nie verby nie. Sy het steeds ’n operasie nodig van ongeveer R62 000, geld wat haar familie eenvoudig nie het nie.

Jani bly sterk vir haar kinders. Foto verskaf
Terwyl hulle wag om te hoor of staatshulp beskikbaar is, lê ’n lang wagtydperk voor asook bykomende koste. Weens moontlike komplikasies hoop die familie die operasie kan privaat gedoen word om verdere risiko te vermy.
Die mediese proses en behandelings plaas baie druk op die gesin. Gereelde reise tussen die plaas en Kimberley of Bloemfontein beteken voortdurende brandstof-, verblyf- en lewenskoste.
Hoewel Jani onlangs by ’n mediese fonds aangesluit het, beteken die wagtydperke dat haar kankerbehandeling nog nie gedek word nie.

Drikus en Jani. Foto verskaf
Gevolglik moet die meeste mediese en verwante koste uit hul eie sak betaal word. Uitgawes het reeds tot R18 000 gestyg en Jani moet dikwels in Kimberley oorbly vir behandeling.
Tuis het die gesin met nog ’n uitdaging te kampe: Jani se driejarige het sorg nodig terwyl sy gedurende die week behandeling ondergaan, en sy probeer steeds om teenwoordig en sterk te bly vir haar twee dogters.
Die situasie het selfs moeiliker geword as gevolg van die verlies aan inkomste, aangesien Jani nie meer kan werk nie.

Jani se gsin dra die las saam met haar. Foto verskaf
“Om kanker in die gesig te staar is reeds verwoestend,” sê sy. “Geen gesin behoort ook die gewig van finansiële oorlewing terselfdertyd te dra nie.”
Deur hierdie stryd droom Jani nou om eendag ’n organisasie sonder winsoogmerk te begin om ander te help wat kanker beveg terwyl hulle kop bo water probeer hou. Dit is ’n droom wat aan haar ’n doel gee – en nog ’n rede om aan te hou veg.
Jani en haar familie kan nie hierdie pad alleen stap nie.
Vra hulp, aanvaar ondersteuning
“Elke bydrae, of dit nou is om my storie te deel, óf om finansiële ondersteuning te bied, help my om elke dag een stap nader te wees aan die operasie en voortgesette behandeling wat ek dringend nodig het.”
Haar boodskap aan ander wat kanker in die gesig staar, is om nie die pad alleen te moet of wil stap nie.
“Vra vir hulp. Aanvaar ondersteuning. En hou vas aan hoop – selfs op die moeilikste dae.”
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

