Central SA
Jong debatteerders tree aan vir SA se grootste aanlyn debatskompetisie─── SUSAN MARÉ 12:01 Mon, 16 Feb 2026
Tonge gaan binnekort begin klap wanneer skoolkinders hulle voorberei vir die grootste aanlyn debatskompetisie in Suid-Afrika.
Inskrywings vir Oppie Tong af/On the Tip of Your Tongue se openbare debatkompetisie vir skole in Suid-Afrika se nege provinsies word gretig ingewag. Dié projek vir Afrikaanse en Engelse skole (gr. 6–12) vier reeds sy tiende aflewering.
Dit is die grootste aanlyn geleentheid van dié aard en bied aan kinders die kans om aan verskeie projekte van Oppie Tong af deel te neem. Dit ontwikkel individuele leierskap en bemagtig kinders sodat hulle met gemak en doelgerig voor enige gehoor hul sê kan sê.
Die kompetisie begin vanjaar in die Vrystaat, sê Vorster Venter, projekbestuurder. Vir alle deelnemers is daar ’n uitdun-, halfeind- en eindronde.
Die eerste twee rondes word aanlyn beslis. Die eindstryd vind in Oktober in Gauteng plaas en die beste debatspanne en hul skole deel die prysgeld van R100 000.

Die kinders leer om met teenstanders te kommunikeer. Foto verskaf
Oppie Tong af bied verskeie aanlyn projekte aan en maak tegnologie deel van alles, sê Venter. Danksy hierdie blootstelling aan moderne tegnologie kan elke kind in Suid-Afrika bemagtig word om die woord te voer. Dit ontwikkel ook hul vaardighede, soos leierseienskappe.
“Ons bied ’n lewendige, interaktiewe aanlyn kompetisieplatform aan waar sprekers voor ’n gehoor kommunikeer. Ons aanvaar byvoorbeeld geen voorafopgeneemde video’s nie, omdat dit nie die mikpunt van ons vaardigheidsontwikkeling ondersteun nie.
“Die debatskompetisie leer kinders sukses in debatvoering hang af van hoe goed navorsing in die debatomgewing geïntegreer word deur logika en duidelikheid. Dit leer hulle ook om met teenstanders te kommunikeer en met integriteit en grasie van mekaar te verskil.”

Redenaars ontwikkel hul lees- en taalvaardighede. Foto verskaf
Hulle moedig jong sprekers aan om te praat ter wille van verandering, sê Venter. “Verander jou onmiddellike omstandighede, verander jou land, verander jou wêreld.
“Kinders, ouers en onderwysers vind almal baat by Oppie Tong af se projekte. Onderwysers moet selfverrykende kursusse en opleiding deur die skooljaar voltooi wat deel uitmaak van die onderwysdepartement se individuele prestasiemeting.”
Hulle is as ’n organisasie sonder winsoogmerk geregistreer by die Suid-Afrikaanse opvoerdersraad, SACE, vertel Venter. “SACE-punte ondersteun die instelling deur die departement en Oppie Tong af is geregistreer sodat onderwysers punte kan ontvang.” 
Die deelnemers se liefde vir die taal groei. Foto verskaf
Jonita Breytenbach van Bethlehem wat al 45 jaar by redenaaraafrigting en kunswedstryde betrokke is, sê die waarde van die redenaar- en debatskuns kan nooit oorskat word nie. Dit hou talryke voordele in vir kinderontwikkeling.
“Kinders se eiewaarde kry ’n hupstoot as hulle redelik goed vaar in kompetisies en so (ook) hul selfvertroue. Dit is waardevol dat kinders die vermoë (aanleer) om ’n eie mening te vorm, ’n standpunt in te neem en te verdedig, navorsing leer doen en so hul kommunikasievaardighede ontwikkel.”
Woordgevoelig
“My ervaring is dat redenaars hul lees- en taalvaardighede ontwikkel en (dat hulle) baie meer lees as die deursneekind. Hulle word ‘woordgevoelig’ en leer om na woorde te soek en te luister wat klankryk is en lekker op die oor val. Hulle ken die krag van alliterasie en besef daar is ’n wye verskeidenheid woorde.
“Kinders raak kreatief, gebruik (nuutskeppings), word lief vir die taal en leer natuurlik ook om op hul voete te dink en vinnig te memoriseer. Dit alles sal ’n positiewe impak op hul algehele skoolprestasie hê.”
Sluitingsdatum
Inskrywings vir die kompetisie vir die Vrystaat en Noord-Kaap sluit op 13 Maart. Die sluitingsdatum vir Gauteng is 15 Mei en Noordwes s’n 26 Junie. Volledige besonderhede en afsonderlike datums vir die provinsies se rondes is op Oppie Tong af se webtuiste verkrygbaar.
’n Aanlyn kursus word op 7 Maart aangebied, waarvan alle besonderhede op die webtuiste is.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

