Central SA
MRK bevind Noord-Kaapse psigiatriese pasiënte ís in steek gelaat─── REFILWE BEKANE 10:00 Wed, 18 Feb 2026
Die Noord-Kaapse departement van gesondheid is gelas probleme in Kimberley se psigiatriese hospitaal op te los.
In die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se finale ondersoekverslag oor die bestuur, infrastruktuur en voldoening aan menseregstandaarde by die Noord-Kaapse geestesgesondheidshospitaal is bevind die departement het fundamenteel versuim om geestesgesondheidspasiënte se regte te beskerm. Die kommissie het hierdie ondersoek gedoen in samewerking met die kantoor van die gesondheidsombudsman.
Die verslag is Dinsdag (17/2) uitgereik. Daarin word die departement oor die kole gehaal oor sistemiese mislukkings en beveel om nuwe operasionele stelsels te implementeer.

Die verslag beklemtoon dat pasiënte toegang tot basiese gesondheidsorg geweier is en dat die departement versuim het om die reg op lewe te beskerm. Foto: Francois Roux
Toesigbesoeke is in 2024 onder die mandaat van die nasionale voorkomende meganisme uitgevoer. Die verslag identifiseer verskeie spesifieke tekortkominge binne die instelling, soos die verval van geboue en onvoldoende sanitasiestelsels, asook veiligheidsgebreke en ’n kritieke tekort aan noodsaaklike personeel.
Fundamentele regte
Daarbenewens is ernstige tekortkominge in toesig en algemene bestuur geïdentifiseer. Hierdie toestande, tesame met die reg van geestesgesondheidsorggebruikers op waardigheid, lewe en toegang tot gesondheidsorgdienste het aan die lig gekom, sê MRK.
Wat statutêre en regsskendings betref het die kommissie tot die gevolgtrekking gekom dat die departement sy grondwetlike pligte versuim het.
Die verslag beklemtoon dat pasiënte toegang tot basiese gesondheidsorg geweier is en dat die departement versuim het om die reg op lewe te beskerm.
Pasiënte verkluim
In sommige gevalle waar die Noord-Kaapse departement van gesondheid betrokke was by ’n gebrek aan sorg vir sy pasiënte by hierdie hospitaal, het dit gevolglik tot menslike lyding gelei.
Vantevore is drie pasiënte in ’n kritieke toestand na die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal verwys weens die toestande waarin hulle behandel is.

As gevolg hiervan het die MRK tydgebonde aanbevelings aan die departement uitgereik om sistemiesemislukkings aan te spreek en nuwe operasionele stelsels te implementeer. Foto: Richard Bean
Onder hulle was John Louw, wat ’n beroerte gekry het weens moontlike hipotermie, asook Cyprian Mohoto, wat weens ysige toestande in die hospitaal aan longontsteking gesterf het. Petrus de Bruin was die derde pasiënt wat aan ernstige hipotermie gely weens die departement se versuim.
In die ondersoek is bevind dat pasiënte gedurende hierdie tydperk besig was om te verkluim weens ’n totale gebrek aan krag, verhitting en warm water.
Hierdie sterftes en die swak kliniese sorg was ’n direkte gevolg van die instelling se vervalle toestand waar selfs noodsaaklike mediese toerusting onbruikbaar geword het omdat daar geen elektrisiteit was nie.
Dringende aanbevelings
As gevolg hiervan het die MRK tydgebonde aanbevelings aan die departement uitgereik om sistemiese mislukkings reg stel en nuwe operasionele stelsels in te voer.
Die verslag is reeds aan dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, oorhandig om die staat se verpligting teenoor kwesbare burgers te beklemtoon.
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of WhatsApp die OFM Nuuslyn: 066487 1427.

