Central SA
Jong Bloemfonteiner gegroet ná noodlottige motorfietsongeluk─── CHARNÉ VAN DER MERWE 23:31 Thu, 19 Feb 2026
’n Jong Vrystater word Vrydag (20/2) gegroet nadat hy verlede naweek in ’n motorfietsongeluk gesterf het.
Louis Smith (19), van Hospitaalpark, is minstens die tweede jong Bloemfonteiner wat die afgelope weke in ’n voertuigbotsing oorlede is. Hy het Saterdag (14/2) omgekom nadat sy motorfiets met ’n voertuig gebots het, waarna hy hy teen ’n lamppaal vasgery het.
’n Saak van strafbare manslag is by die Parkweg-polisiekantoor aanhangig gemaak nadat ’n Rooi Nissan-sedan en ’n Suzuki-motorfiets op die kruising van Currielaan en Napoleonstraat gebots het, sê kol. Thabo Covane, provinsiale polisiewoordvoerder.
Smith, ’n oudleerder van die Martie du Plessis-skool, is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Nóg ’n jong man van die stad is op 4 Desember oorlede toe die Toyota Hilux Legend waarin hy gery het, in die vroeë oggendure op die N1-noordwaarts met ’n vragmotor gebots het.
NJ Cohen (23), ’n oudleerling van Grey Kollege, was slegs ’n paar dae in die land nadat hy uit Amerika teruggekeer het.

NJ Cohen. Foto: Facebook
Die ongeluk het om 02:56 plaasgevind toe Cohen se bakkie met ’n wit Foton-vragmotor gebots het wat na bewering van ’n afrit naby die Engen-vulstasie afgery en voor hom inbeweeg het.
Die bestuurder en passasier van die vragmotor is hospitaal toe geneem vir behandeling, maar Cohen is op die toneel dood verklaar. Cohen was van Kleinplasie in Vaalbank-Suid.
Smith se troosdiens is Vrydag om 10:00 in die NG kerk Pellissier.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

