Central SA
Dubbele longoorplanting wag op geliefde Voortrekkerleier van Bloemfontein─── SUSAN MARÉ 11:00 Sat, 21 Feb 2026
’n Onderwyseres van Grey Kollege Primêr en voormalige kommandoleier van die MT Steyn-Voortrekkerkommando wag in Bloemfontein op “daardie” oproep uit die Kaap.
Na intensiewe toetse in die Groote Schuur-hospitaal verlede jaar is Karen du Plessis (59) uiteindelik op die aktiewe waglys vir ’n dubbele longoorplanting geplaas. Sy worstel al lewenslank met probleme met haar longe.
Sy was drie jaar gelede reeds in Kaapstad om toetse te ondergaan vir ’n moontlike oorplanting, maar haar longkapasiteit en suurstofsaturasie was destyds nie voldoende om te kwalifiseer nie. Verlede jaar het haar longfunksie egter drasties verswak en het alledaagse aktiwiteite toenemend moeilik geraak.
By die Rooi Kruis-kinderhospitaal het haar dokter toetse na Duitsland gestuur. Die verslag wat teruggekeer het, was volgens haar “soos om jou lewensverhaal te lees”.
Haar diagnose: primêre siliêre diskinesie – ’n toestand wat veroorsaak dat haar liggaam nie slym effektief kan verwyder nie.
In 2025 was Karen 24/7 op suurstof en moes sy twee keer per dag genebuliseer word. Van kleins af was haar longe reeds aangetas. Op negejarige ouderdom is die onderste lob van haar linkerlong verwyder.

Jaco Pheiffer, Juanita Bekker, Melinda Laubcher en Karen du Plessis. Foto verskaf
“Die grootste verswakking het die afgelope paar jaar ingetree,” sê sy. “Eers het ek net met suurstof geslaap, maar nou kan ek niks sonder dit doen nie.
“My lewe is so lank soos die suurstoflyn. My lewe is in die Here se hande. Nou wag ek net vir die oproep uit Kaapstad.”
Ten spyte hiervan bly sy aktief: “Ek hou selfs nog skool. Slaap, stort, alles gebeur met suurstof.”
Keuring
“Albei longe moet vervang word. Die keuring geskied volgens geslag, bloedgroep en weefselaanpassing.”
Sy is steeds betrokke by Grey, maar in ’n minder intensiewe rol. Nadat haar kollegas haar struwelinge met die werk begin raaksien het, het hulle met die skoolhoof, Jurie Geldenhuys, gepraat. Die skool het toe vir haar ’n pos geskep by ondersteuningsonderwys.

Die Voortrekkers groet Karen du Plessis in Oktober 2025 op die lughawe. Foto verskaf
Sy bied nou remediëringsklasse aan en werk een-tot-een met leerders. Sy is nie meer by buitemuurse aktiwiteite betrokke nie, wat die werkdruk verlig.
Karen het jare gelede haar RO-diploma aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) verwerf. “In my wildste drome het ek nie gedink daardie kwalifikasie sou my so deurdra nie.”
Sy is ’n beheerraadsaanstelling by die skool en dit voorsien belangrike inkomste. Sy is nie op ’n mediese fonds nie, maar is dankbaar dat sy as staatspasiënt by Groote Schuur behandel word.
Liefde en ondersteuning
Longoorplantings is kompleks, maar word al hoe suksesvoller. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is die eerste suksesvolle longoorplanting in 1963 in Jackson in die Amerikaanse deelstaat Mississippi uitgevoer – vier jaar voor prof. Chris Barnard se bekende hartoorplanting.
Volgens dr. Greg Calligaro van die Universiteit van Kaapstad word daar sedert 2017 sowat 4 000 longoorplantings per jaar wêreldwyd uitgevoer – meestal in ontwikkelde lande. Longe is besonder moeilik om oor te plant weens hul blootstelling aan die buitelug en die verhoogde risiko vir infeksie.
Karen bly egter optimisties. Sy is dankbaar vir die liefde en ondersteuning van haar familie, vriende, kollegas en veral die Vrystaatse Voortrekkers.

Die ysbeerswemmers is van links, voor: Karin Grundlingh, Jaco Pheiffer, Juanita Bekker en Wimpie Pienaar. Agter: Collin van der Werf, Benita Pheiffer, Margie Botha, Karin Smith, Karen du Plessis en Melinda Laubcher. Foto verskaf
Sy bestuur steeds self werk toe, gaan inkopies doen (al hou sy die battery van haar suurstofmasjien fyn dop) en hou van handwerk, lees en inkleur.
Die Voortrekkers was vir jare haar passie. Die MT Steyn-kommandolede sluit leerders van Eunice, Grey en Oranje in. Dié kommando reël ’n sokkie by Grey Primêr om geld vir Karen se mediese uitgawes in te samel.
“Voortrekkerwees se grondslag is geloof (Christenskap), taal (Afrikaans) en geskiedenis – alles wat vir my na aan die hart lê.”
Twee suustofmasjiene
“Pres. MT Steyn, na wie ons kommando vernoem is, se plaas is net buite Bloemfontein. Sy kleinseun, adv. Colin Steyn, het ons al verskeie kere daar verwelkom. Hoe spesiaal is dit nie?”
Die Voortrekkers vier vanjaar hul 95ste bestaansjaar en kommando’s oor die Vrystaat heen sien uit na die vierings. “Die Doornkloof-kampe in die Lindley-distrik is altyd ongelooflike ervarings vir die kinders.”
Karen het verlede jaar se Kamp Klitsgras met twee suurstofmasjiene, ’n nebuliseerder en haar medikasie meegemaak. “Maar my longe het my in my spore laat vassteek.”
‘Julle blydskap maak alles die moeite werd’
Die longkliniek by Universitas-hospitaal kyk mooi na haar. Haar pulmonoloog, dr. Shaun Maasdorp, sorg dat haar medikasie reg bly en behandel selfs antibiotika-weerstandige bakterieë soos pseudomonas.
“Ek kan net dankie sê,” sê sy oor die geldinsameling. “Dankie aan elke offisier – van die hoofleier tot die kleinste graad R-Voortrekkertjie. Dankie dat julle vir my omgee en my help om my juk te dra. Julle maak my sterk en julle blydskap maak alles die moeite werd.”
Die Voortrekkers se sokkie vir Karen se mediese uitgawes is op Saterdag, 21 Februarie van 17:00 tot 23:00 in Grey Kollege se laerskoolsaal. Kaartjies is beskikbaar by Quicket.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

