Central SA
Lewensbedreigende hartoperasie vir Vrystaatse ‘wonderbaba’ suksesvol─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:04 Mon, 23 Feb 2026
’n Vrystaatse baba by wie ’n seldsame en lewensbedreigende harttoestand gediagnoseer is, herstel merkwaardig goed ná ’n riskante opehartoperasie. Hy sal na verwagting binnekort huis toe kan gaan.
Die amper drie maande oue Enzo Breytenbach is op 11 Februarie van Bloemfontein na die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad oorgeplaas. ’n Span spesialiste het een van die mees komplekse hartprosedures vir babas op hom uitgevoer.
Enzo is op 4 Desember gesond gebore, maar op 16 Januarie tydens ’n roetineondersoek het dokters opgemerk hy word blou. Hy is in die pediatriese intensiewesorgeenheid in Welkom opgeneem en later na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.
’n Seldsame en komplekse kombinasie bekend as transposisie van die groot arteries met ventrikulêre septale defek en dubbele uitgangsregterventrikel is by hom gediagnoseer.
Die toestand beteken beide die pulmonale slagaar en die aorta is aan die regterventrikel gekoppel in plaas daarvan om tussen die hart se twee pompkamers geskei te wees. ‘n Opening tussen die hartkamers, die einste gat wat hom aan die lewe hou, het suurstofryke bloed deur sy liggaam gesirkuleer.
“Die meeste babas met hierdie toestand leef nie eers ’n maand nie,” het sy ma, Geraldine van Zyl, voorheen aan OFM Nuus gesê.
Slegs enkele spesialiste in Suid-Afrika kan die nodige korrektiewe operasie uitvoer. Dokters het die gesin gewaarsku dit is een van die gevaarlikste prosedures wat op ’n baba uitgevoer word en hulle moet op die ergste voorberei.
Enzo en sy ma sou aanvanklik op 10 Februarie per helikopter na Kaapstad vlieg, maar die vlug is weens ongunstige weersomstandighede uitgestel. Hulle is die volgende dag na Kaapstad gevlieg, waar sy pa, David Breytenbach, by hulle aangesluit het.

David Breytenbach en sy seun, Enzo, in die hopsitaal. Foto verskaf
’n Gedetailleerde 3D-skandering van Enzo se hart is gedoen vir die beplanning van die operasie. Dokters het verduidelik dit behels die aorta en pulmonale arterie moet in hul korrekte posisies geskuif word en die gat tussen die hartkamers moet toegemaak word.
Die grootste risiko was die klein, brose slagare wat aan die aorta geheg is.
Woensdag (18/2) was een van die stresvolste dae vir Enzo se ouers toe hy net ná 08:00 in die teater ingestoot is.
Korrektiewe prosedure
“Die operasie was baie suksesvol,” sê David. “Die dokters het besluit om die volle korrektiewe prosedure in een operasie uit te voer om die kanse op verdere opehartoperasies in die toekoms te verminder.”
Enzo het vyf dae in die waakeenheid deurgebring en dokters sê hy was “te gesond” om in die intensiewesorgeenheid te bly en het begin voorberei om hom na ’n gewone saal te skuif.

Enzo Breytenbach ná sy hartoperasie. Foto verskaf
“Hy is nou van suurstof af en haal self asem. ’n Klein voedingsbuis bly in plek vir voeding, maar ek borsvoed hom elke drie uur. Hy drink lekker. Dit gaan baie, baie goed met hom,” sê Geraldine.
Enzo se chirurgiese insnyding genees baie mooi en dokters is verbaas hoe vinnig hy herstel.
“Een van die dokters sê dis die eerste keer dat hy ’n baba so vinnig sien herstel. Die ander een sê dit is net gebede wat dit kan doen,” sê sy ma.

David en Geraldine Breytenbach, saam met hul seun, Enzo. Foto verskaf
Enzo moet elke ses maande vir opvolgbesoeke gaan. Sy hartfunksie sal noukeurig gemonitor word om seker te maak dit ontwikkel normaal.
“As alles goed gaan sal hy moontlike geen verdere operasies nodig hê nie. Die opvolgondersoeke is noodsaaklik aangesien komplikasies mettertyd kan ontwikkel,” sê David.
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

