Central SA
Polisie waarsku motoriste in Noord-Kaap oor gure weer, misdaad─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:34 Mon, 23 Feb 2026
Die polisie vra motoriste moet waaksaam bly tydens swaar donderstorms en voortslepende voertuigverwante misdade dwarsoor die provinsie.
Swaar reën veroorsaak gevaarlike padtoestande, terwyl diefstal uit en van voertuie steeds kommerwekkend is. Inwoners word gevra om te let op pad- en voertuigveiligheid.
“Motoriste wat tydens gure weer reis moet hul spoed verminder en volgafstand vergroot om ongelukke te verhoed,” sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewooordvoerder. “Hou die hoofligte aangeskakel om sigbaarheid te verbeter en maak seker die ruitveërs is in ’n goeie werkende toestand.”
Sluit deure en vensters
Motoriste moet ook nie deur poele of stilstaande water ry nie, want dit kan moontik slaggate wees.
Ehlers sê hulle moet ook versigtig bestuur naby groot voertuie want hul watersproei kan sigbaarheid belemmer. Stop eerder op ’n veilige plek totdat dit veiliger is om jou reis te hervat.
“Voertuigeienaars moet verseker alle deure en vensters is gesluit as hulle uitklim. Waardevolle items soos skootrekenaars, handsakke, inkopiesakke, kontant en kameras moet buite sig in die bagasieruim gebêre word,” sê sy.

Motordiefstal neem toe in die Noord-Kaap. Foto: iStock
“Dit is onwettig en streng verbode om ’n vuurwapen in ’n voertuig te laat selfs al is dit in die paneelkissie. Misdadigers gebruik afleidingstaktieke soos iemand wat maak asof sy voertuig ’n pap band of meganiese probleem het.
Hou die voertuig se deure gesluit en vensters toe as jy in die dorp reis of naby kruisings is.”
Parkeer jou voertuig snags in goed beligte gebiede en vermy donker en afgesonderde plekke. “Die installering van alarmstelsels word aangemoedig, asook die gebruik van parkeerterreine met voldoende sekuriteit, sê Ehlers.
Eenvoudige voorsorgmaatreëls
Moet ook nooit jou motorsleutels in die aansitter los nie.
“Ons doen ’n beroep op alle padgebruikers om waaksaam te bly, verantwoordelik te bestuur en veiligheid te prioritiseer. Deur eenvoudige voorsorgmaatreëls te tref kan motoriste die risiko van ongelukke tydens swaar reën aansienlik verminder en voertuigverwante misdaad voorkom.
Bel Stop Misdaad by 08600 10111 om enige verdagte aktiwiteit aan te meld of maak gebruik van die MySAPS-app. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

