On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp: Ongeluk eis vier, prokureur in hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:41 Tue, 24 Feb 2026

Klerksdorp: Ongeluk eis vier, prokureur in hof | News Article
Dié vier jong mense het in ’n ongeluk gesterf. Foto’s verskaf

Vir vier gesinne van Noordwes het dit gevoel of die wond oopgeruk word toe die beskuldigde van ’n noodlottige ongeluk weer in die hof verskyn het.

Byna 18 maande ná die ongeluk wat die lewens van vier jong mense geëis het, het die beskuldigde sy tweede verskyning in die Klerksdorpse landdroshof gemaak. Edward Letsie (34), ’n gewese prokureur, het Maandag (23/2) in die hof verskyn.

Die saak is uitgestel tot 11 Maart wanneer besluit sal word of die verhoor in die verkeershof sal voortgaan of na die streekhof oorgeplaas sal word. 

Letsie staan tereg op vier aanklagte van strafbare manslag vir die dood van Ruan Esterhuizen (21), sy meisie, Jackie Willis (21), sy beste vriend, Max Knott-Craig (22), en ’n vriendin, Jané Janse van Rensburg (19).

Letsie het op 23 Januarie die eerste keer in die hof verskyn. 

Jackie Willis. Foto verskaf

Die vier vriende is op 13 Oktober 2024 in ’n botsing op die kruising van die N12 en Plataanlaan in Klerksdorp dood. Hulle was omstreeks 19:00 van die Matlosana-winkelsentrum op pad huis toe en het regs gedraai by die verkeerslig toe ’n Mercedes-Benz wat in die teenoorgestelde rigting gery het, met hul voertuig gebots het.

Hulle het die dag saam by die dam deurgebring. Op pad huis toe, minder as 200 m van hul bestemming af, het die botsing plaasgevind.

Mercedes-Benz

Esterhuizen, Willis en Janse van Rensburg is op die toneel oorlede. Knott-Craig is ’n paar uur later in die hospitaal aan sy beserings dood.

Volgens gerugte het die bestuurder van die Mercedes-Benz van die toneel gevlug en die voertuig agtergelaat. Hy het homself twee dae ná die ongeluk by die Klerksdorp-polisiekantoor oorgegee, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.

Ruan Esterhuizen. Foto verskaf

Vir Hollie Janse van Rensburg het die nagmerrie net voor 19:45 met ’n telefoonoproep begin. Haar man, wat in die buiteland werk, het die tyding gekry dat hul dogter, Jané, oftewel Nienie, in ’n ernstige ongeluk betrokke was.

Oomblikke tevore het Hollie ’n gemeenskapswaarskuwing oor ’n groot ongeluk op die kruising gesien. Met bewerige hande het sy probeer om haar dogter se foon te bel. “Dit het direk na stempos gegaan,” sê sy.

‘Voertuig op sy sy gelê’

Carl Coetzer, haar swaer, het haar na die toneel gehaas terwyl haar suster, Lyndylle, by Jané se sussie, Isla Grace, by die huis gebly het.

“Toe ek daar aankom, het die voertuig op sy sy gelê en skaars herkenbaar,” onthou Hollie.

Sy het noodpersoneel van identifiserende kenmerke voorsien en die juweliersware beskryf wat Jané gedra het. ’n Engelvlerkhangertjie en ’n armband wat sy vir haar dogter gegee het. Dit het bevestig dat dit sy is.

Jané Janse van Rensburg met die engelvlerkhangertjie. Foto verskaf

“Sy was werklik pragtig. Van binne en buite,” vertel Hollie. “Sy het die volste lewe geleef van enige 19-jarige wat ek ooit geken het. Sy was my beste vriendin. 

“Elke liewe dag moet ons ’n besluit neem om op te staan en aan te gaan. Hierdie hartseer is hard, rou en ongelooflik seer. 

“My dogter het haar hele lewe voor haar gehad. Ons sal nooit die vreugde ken om grootouers vir haar kinders te wees nie, en sy sal nooit haar sussie sien grootword nie.”

‘Hart van ons familie’

Vir Cherice Grobler het die oproep omstreeks 19:30 gekom. Haar broer, Ruan Esterhuizen (21), was in ’n ongeluk net ’n paar strate van hul huis af.

“Toe ons by die toneel aankom, was die wrak so erg dat ons die motor skaars kon herken,” sê sy. “My boetie was die vriendelikste en snaaksste persoon wat ek geken het. Hy was baie beskermend; die hart van ons familie.

“Hierdie tragedie het ons familie verpletter. Elke dag is ’n herinnering aan wat van ons weggeneem is. Die lag, die planne, die verjaarsdae wat ons nooit weer sal vier nie.”

Sy beskryf die vier vriende as jong mense vol drome, liefdesverhale en planne vir hul toekoms – ’n gewone aand wat in ondenkbare verlies geëindig het.

Max Knott-Craig. Foto verskaf

Max het Jané ure voor hul dood gevra om sy meisie te wees. Ruan en Jackie sou op 2 Februarie 2025, presies vier jaar nadat hulle vas begin uitgaan het, verloof raak.

“Wat bygedra het tot die hartseer was die feit dat daar ’n volle jaar ná die ongeluk steeds geen inhegtenisneming en geen aanklagte aanhangig gemaak is nie.”

Albei families sê kommunikasie van die polisie was minimaal, wat hulle laat voel hulle word nie ondersteun nie en in die duister gelaat oor die vordering van die ondersoek.

Antwoorde

“Ons het herhaaldelik gevra vir opdaterings,” sê Cherice. ”Ons wag steeds vir antwoorde oor wat presies daardie aand gebeur het en waarom geregtigheid so lank geneem het.”

Hollie beskryf die gebrek aan terugvoer as een van die pynlikste aspekte van die afgelope jaar. “Dit voel asof hul lewe nie genoeg saak gemaak het vir dringendheid nie.” .

Justice Ride

Ná maande se wag het die families besluit om hul stem te laat hoor. Hulle het ’n Justice Ride en vreedsame optog gehou om die herdenking van die tragedie te vier en om verantwoording te eis.

“Ons hart pyn steeds, maar ons stilte het in vasbeslotenheid verander,” sê Cherice.

Die optog is nie net vir Ruan, Jackie, Max en Jane nie, maar ook vir ander gesinne wat voel dat geregtigheid vertraag is.

Geregtigheid

Vir Hollie sal die lewe nooit weer dieselfde wees nie. “Die mense wat ons voor die ongeluk was, is nou vreemdelinge vir ons.” 

Die families sê die ongeluk het hulle gebreek. “Hy het nie net vier lewens daardie nag geneem nie. Hy het vier gesinne se lewe verwoes. Ons sal nie ophou totdat geregtigheid geskied nie.”

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.