Central SA
Centlec waarsku teen vals tenderversoeke, kragslenters─── REFILWE BEKANE 12:00 Tue, 24 Feb 2026
Centlec het ’n dringende waarskuwing uitgereik ná ’n toename in mense wat hulle voordoen as sy werknemers om die publiek om die bos te lei.
Misdadigers maak ook gebruik van verskeie digitale kommunikasieplatforms, insluitend WhatsApp, SMS, e-pos en direkte selfoonoproepe, om niksvermoedende slagoffers te bereik. Hulle gebruik gewoonlik ongeverifieerde en onbekende selfoonnommers.
Die doel van hierdie interaksies is om inwoners te flous om sensitiewe persoonlike inligting te verskaf of om hulle onder valse voorwendsels te dwing om onmiddellike, bedrieglike betalings te maak, sê Mangaung se kragverspreider.
Een van die algemeenste maniere is die bewering dat ’n inwoner ’n agterstallige rekening het wat onmiddellike vereffen moet word om te keer dat hulle krag afgesny word.
In baie gevalle skep die swendelaars ’n gevoel van dringendheid of gebruik hulle intimiderende taal om slagoffers te verhoed om die bewerings na te gaan. Hulle bied ook vals afslag op koopkrag of spesiale tariewe wat nie bestaan nie.
Sommige bedrieërs teiken spesifiek sake-eienaars deur die name van hooggeplaaste amptenare te gebruik om geld uit hulle uit te kry vir sogenaamde tenders of kontrakgeleenthede.
Waaksaam
Centlec beklemtoon amptelike sake word nooit per private selfoongesprekke of onopspoorbare betaalmetodes soos e-beursies en kontantdeposito’s by kleinhandelaars gedoen nie.
Inwoners word versoek om waaksaam te wees. Die gebruik van ’n Centlec-bestuurder se naam maak nie ’n versoek wettig nie, aangesien dit openbare inligting is en maklik deur identiteitsdiewe uitgebuit word.
As jy ’n verdagte oproep ontvang sê Centlec beëindig die oproep onmiddellik en moenie klik op enige skakels wat per SMS, e-pos of WhatsApp gestuur word nie.
Alle wettige finansiële transaksies en rekeningnavrae word net deur gemagtigde verskaffers, die amptelike Centlec-app of by aangewese instapdienssentrums hanteer.
Meld enige verdagte gedrag by die amptelike kliëntedienslyn aan en beskerm jouself teen hierdie slenters.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg

