On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

R2,2 miljoen nodig vir Suid-Afrikaanse onderwyser wat in China aangehou word

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:53 Tue, 24 Feb 2026

R2,2 miljoen nodig vir Suid-Afrikaanse onderwyser wat in China aangehou word | News Article
Francois Van Zyl de Kock. Foto verskaf

’n Onderwyser se familie in SA samel geld in om vergoeding te betaal nadat hy na bewering ’n vrou in China se dood in ’n ongeluk met sy bromponie veroorsaak het.

Francois Van Zyl de Kock, van Vanderbijlpark, word al drie maande in Wuhan aangehou nadat hy in verband met die voorval in hegtenis geneem is. Hy het onlangs daarheen verhuis om sy finansiële vooruitsigte te verbeter, sy gehoorgestremde seun te ondersteun en buitelandse ervaring op te doen. 

Francois het op 3 Augustus op sy elektriese bromponie toeristeaantreklikhede besoek toe ’n skielike wolkbreuk sigbaarheid belemmer het, sê Zander de Kock, sy broer. 

Francois Van Zyl de Kock. Foto verskaf

“Francois, wat onbekend is met die stad, beweer ’n bejaarde het omstreeks 22:00 van voor ’n bus in die pad ingehardloop. Weens die swaar reën en swak beligting het hy geglo dat hy nie kontak gemaak het nie en het aangehou ry,” sê Zander.

Toe sy familie nie met hom in aanraking kon kom nie, het hulle twee dae later verneem dat hy tuis in hegtenis geneem is. Amptenare sê die vrou het omtrent ’n maand ná die botsing aan haar beserings beswyk. “Hy werk ten volle saam met die regsproses en word deur twee prokureurs in China verteenwoordig,” sê Zander.

Aanklaers het na bewering ’n tronkstraf van drie tot vier jaar voorgestel. Die familie van die oorledene eis vergoeding van sowat R2,2 miljoen, ’n bedrag wat Francois se familielede nie kan bekostig nie. 

Die skildery. Foto verskaf

So ’n betaling kan in China daartoe lei dat ’n klagte laat vaar word of ’n vonnis aansienlik versag.

Sy geliefdes in SA reël ’n gelukstrekking om eis te help betaal. Skenkers wat R100 bydra, ontvang een inskrywing in ’n trekking om ’n oorspronklike skildery deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar Frans Claerhout ter waarde van tussen R55 000 en R80 000.

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.