Central SA
Padkruis naby Reitz al 96 jaar oud─── SUSAN MARÉ 08:30 Sat, 28 Feb 2026
Derduisende reisigers en verbygangers het seker al die afgelope 96 jaar gewonder oor die oorsprong van die witgekalkte kruis teen ’n kop naby Reitz.
Daar is bespiegelings waarom die kruis daar opgerig is, tog is daar net één ware storie. Die kruis teen Houtkop, sowat 11 km suid van Reitz langs die R26-roete in Bethlehem se rigting, is opvallend, word gereeld in stand gehou en het ’n interessante geskiedenis.
Ten spyte daarvan dat die kop geografies eintlik in ’n leegte lê, volgens Henry Roux, wat lank daar naby geboer het, is Houtkop 1 751 m bo seespieël. Die heuwel met sy pragtige natuurskoon is deel van die Drakensberg-basaltgesteente in die Riemland van die Oos-Vrystaat.

Die kruis is opgerig langs die R26-roete in Bethlehem se rigting. Foto verskaf
Dit is op die nabygeleë plaas Bolivia, wes van die R26 waar Sewendedagadventiste ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) onder leiding van ds. Tobias Janse van Rensburg ’n kerkie gebou het. Later, teen ongeveer 1930, is besluit om die kruis teen Houtkop aan die anderkant van die R26 op te rig.
Ds. Janse van Rensburg en sy gemeente het die kruis teen die kop gestapel ter nagedagtenis aan Christus se kruisdood en om dit daagliks te herdenk. Die kruis was sigbaar vanaf die voordeur van die kerkgebou, wat nou vervalle is.
Die Sewendedagadventiste het aanvanklik met ossewaens by Houtkop uitgespan om saam kerk te hou. Met die aanbreek van die groot droogte en depressie van die dertigerjare moes die dominee en sy gemeentelede met verloop van tyd hul eiendomme verkoop en wegtrek.

Kinders help om die kruis skoon te maak. Foto verskaf
In Die geskiedenis van Reitz (1889–1989), ’n feesbundel wat deur wyle dr. H.B. Koen van dié dorp saamgestel is, is waardevolle inligting oor die kruis en sy oorsprong. Die kerk op Bolivia is op soliede klipplaat gebou met langsaan ’n doopbak vir die “grootdoop”.
Die graf by die kerk is dié van ds. Janse van Rensburg – die eerste predikant. Die kerk uis later jare lank as ’n skuur gebruik. Aangrensende plase is Ysterklou, Houtkop en Klein Houtkop.
Baie vertellinge en bespiegelings oor waarom die kruis op Houtkop opgerig is het met die jare ontstaan: dat ’n vliegtuig teen die kop vasgevlieg het, dat ’n seun daar in ’n skeur geval het en ander van die vertellings is nie waar nie.
Danie Strydom
Wat wel waar is, is ’n tragiese voorval aan die oostekant van die kop toe ’n twaalfjarige, Danie Strydom, in 1907 vergruis is deur ’n los rots wat op hom geval het terwyl hy kalwers aangekeer het. Sy ouers het die volgende dag op sy liggaam afgekom.
Die kruis is lank deur nasate van ds. Janse van Rensburg onderhou. Die afgelope jare word die kruis gereeld deur die gemeente van die AP Kerk op Reitz as ’n jeugprojek onderhou en selfs die Voortrekkers van Reitz en ander lede in die gemeenskap was al betrokke.
As nasate het hulle die kruis op Houtkop gereeld in stand gehou as deel van hul geestelike erfenis, vertel twee nasate, Christina Labuschagne (née Janse van Rensburg), wat later met Martiens Neethling van Reitz getroud was, en Gerald Janse van Rensburg.
Ewigheidswaarde
“Ek vertrou dat die sterk boodskap wat die kruis al vir so lank uitbeeld eendag van ewigheidswaarde vir baie mense wees,” sê Christina. Nasate van ds. Janse van Rensburg het ná die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) terugggetrek en weer jare lank op die plaas Bolivia gewoon.

Ds. Willie Botha van die AP Kerk op Reitz. Foto verskaf
Hy en sy vrou, Erina, het die kruis onlangs besoek. Die kerkjeug maak gereeld daar skoon, sê hy, en die kruis dra ’n sterk evangeliese boodskap uit.
“Ons het die klippe eers gekalk, maar verf dit nou met die verf wat vir padstrepe gebruik word. Die natuurskoon rondom die kruis is pragtig. Die R26 is ’n bedrywige hoofroete van mense van Gauteng en ander provinsies na die Vrystaat, Lesotho en elders reis.
Klippe
“Die kruis is 18 m lank en 12 m breed. Ons het probeer tel hoeveel klippe gebruik is – die onderste klippe is nogal groot.
“Die kleiner klippe is aan die bokant. Daar is minstens 70–80 klippe per meter. Die lig wat die kruis in die nagte indrukwekkend verlig kom van ’n 400 W-sonpaneeltjie.”

Erina Botha het ook gehelp met die skoonmaak. Foto verskaf
Nog baie duisende mense sal DV met die jare verby Houtkop met sy wit kruis aan die R26 ry en bedags sowel as snags aan die kruisdood van Jesus Christus herinner word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Susan Maré mvh

