On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Pret en genot op tweede dag van Vrystaatse landbouskou

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 16:31 Fri, 27 Feb 2026

Pret en genot op tweede dag van Vrystaatse landbouskou | News Article
Kean Botha (25) en Dandre van Zyl (25). Foto: Charne van der Merwe

Pret en genot gee die toon aan op die tweede dag van een van die Vrystaat se grootste landboutentoonstellings.

’n Hoogtepunt van die Bieliemieliefees Vrydag (27/2) op Reitz was die mieliehangkompetisie, waar jonk en oud gretig was om hul mik- en gooivaardighede te beproef. Deelnemers het ongeveer 3 m van ’n houtrak af gestaan, elkeen met ’n tou met twee mieliekoppe aan weerskante vasgehou.

Die uitdaging? Gooi die tou sodat die mielies stewig oor die rak hang sonder om af te val. Elke deelnemer het drie pogings gehad om te slaag.

’n Hoogtepunt van die Bieliemieliefees Vrydag op Reitz was die mieliehangkompetisie. Foto: Charne van der Merwe

Wian Maritz (11) van Durban het slegs een keer gemis en is as die wenner aangewys. Hy het en die gewilde bordspeletjie Boereplaas huis toe geneem.

Dit was ’n mondvol by die Mielie-spoedeetkompetisie, waar tien spanne van twee deelgeneem het. In elke span het die een deelnemer agter die ander gestaan.

Gavin Wilkinson (27) en Jowayne van Zyl (25). Foto: Charne van der Merwe

Elke span het twee hele mieliekoppe en een koppie mieliepitte gekry. In die eerste rondte het die persoon agter die mielie vir die persoon voor gevoer.

Toe hulle klaar was, het hulle posisies geruil, en die ander spanmaat het die tweede mieliekop geëet. Spanne kon so gereeld as wat hulle wou aanhou ruil totdat al die mielies op was.

Hennie Helepi (25) en Leroy Ngcobo (28). Foto: Charne van der Merwe

Sodra die mielies klaar was, moes hulle die koppies vol mieliepitte omdraai en dit ook klaarmaak. Hennie Helepi, (25) en Leroy Ngcobo (28) het as oorwinnaars uit die stryd getree, elk met mielies en R100.

Die pret hou egter nog nie op nie! Feesgangers kan gereed maak vir ’n vuurwarm kompetisie met die Chilli-mielie-uitdaging Saterdag (28/2) om 16:00.

Dillon Lerm en Wian Maritz (11). Foto: Charne van der Merwe

Tien van Suid-Afrika se warmste souse gekombineer met mielies gaan jou toleransie tot die uiterste toets, sê Monique Lerm, lid van die vermaakspan.

Nog pret is die sterkman-kompetisie, perdryvertonings, kameelritte en baie meer.

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.