Central SA
Gemeenskapsprojekte in Bloemfontein versterk veiligheid by skole, woonbuurte─── CHARNÉ VAN DER MERWE 17:17 Fri, 27 Feb 2026
In ’n tyd waar veiligheid in woonbuurte en by skole toenemend onder druk is, speel georganiseerde gemeenskapsprojekte ’n belangrike rol om inwoners en leerders te beskerm.
In die Vrystaat neem ’n toegewyde organisasie saam met vrywilligers en plaaslike rolspelers daadwerklike stappe om veiligheid by skole te verbeter. Hulle werk ook aktief daaraan om misdaad in gemeenskappe hok te slaan en inwoners beter te beskerm,
AfriForum Jeug se Bloemfontein-tak fokus op die verbetering van pad- en leerderveiligheid by skole in die Rosestad. “Verskeie praktiese projekte is aangepak om die veiligheid van leerders en padgebruikers te bevorder,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder van AfriForum.
Een van die verbeteringe was die oorverf van voetoorgange by die Laerskool Sand du Plessis in Leeuwenhoek- en Fowlerstraat om dit duideliker sigbaar te maak. By die Hoërskool Sand du Plessis in Pasteurrylaan is voetoorgange en die padmerke by ’n stopstraat geverf.

Een van die vrywilligers maak die pad skoon. Foto verskaf
Vier slaggate in Mayostraat is ook herstel om verdere risiko’s vir motoriste en voetgangers te beperk.
Groenewald sê dit vorm deel van AfriForum Jeug se volgehoue pogings om gemeenskapsveiligheid deur selfdoenaksies en samewerking met rolspelers te versterk. Die Bloemfontein-tak het AfriForum se Hospitaalpark-tak en die Uitsig-buurtwag bedank vir die skenking van verf en teer wat die projekte moontlik gemaak het.
Gemeenskap
AfriForum911 se reaksie-eenheid het ook praktiese ondersteuning op die terrein gebied.
“Projekte soos dié is moontlik wanneer die gemeenskap saamstaan en verantwoordelikheid neem. Ons jeug is bereid om hul moue op te rol en ’n werklike verskil te maak waar dit die nodigste is.
“Deur praktiese optrede maak ons nie net veiliger paaie nie, maar ook ’n sterker gemeenskap.”

Slaggate is opgevul. Foto verskaf
Benewens skoolveiligheidsprojekte speel AfriForum se gemeenskapsveiligheidsentrum (GVS) in Bloemfontein ’n deurlopende rol in die bekamping van misdaad.
In Januarie is reaksievoertuie gemiddeld drie keer per dag (altesaam 95 keer) ontplooi om op noodgevalle en misdaad te reageer.
In dié tydperk is daar op vier brande, een diefstal en elf motorongelukke gereageer. Agt mense is in hegtenis geneem en vier verdagte mense of voertuie is aangemeld.
“Die GVS werk voortdurend saam met AfriForum911 se reaksie-eenheid, plaaslike AfriForum-buurtwagte en ander veiligheidsrolspelers om uiteenlopende operasionele voorvalle te hanteer.”

Oorgange by die skole is oorgeverf. Foto verskaf
Hy sê statistieke toon direkte kommunikasie met die gemeenskap is steeds ’n groot behoefte. Altesaam 86 klagte is via WhatsApp ontvang en 25 telefoniese klagte is hanteer.
Sigbare misdaadvoorkoming deur patrollies het ook ’n belangrike rol gespeel: AfriForum-buurtwagte het agt patrollies uitgevoer, AfriForum911 het 36 patrollies onderneem en 11 gesamentlike patrollies is gedoen.
“AfriForum se operasionele statistieke in Bloemfontein bewys georganiseerde gemeenskapsveiligheid in samewerking met verskeie rolspelers kan ’n tasbare en meetbare verskil in die bekamping van misdaad maak.”

Die stopteken was byna heeltemal onsigbaar voor dit geverf is. Foto verskaf
Groenewald sê AfriForum beoog om sy veiligheidsnetwerk in Bloemfontein verder uit te brei, vrywilligers op te lei en samewerking met rolspelers te verbeter om gemeenskappe nóg veiliger te maak.
“Inwoners word aangemoedig om aktief betrokke te bly by hul buurtwagte en om misdaad en verdagte aktiwiteite dadelik aan te meld.”
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

