Central SA
Veiligheidswagte in die hof ná plaasmoord, aanranding op Ladybrand─── REFILWE BEKANE 11:30 Mon, 02 Mar 2026
Twee veiligheidswagte verskyn na verwagting Maandag (2/3) in die landdroshof op Ladybrand op aanklagte van moord en aanranding.
Rakoro David Moloi (52) is dood en sy broer (46) aangerand toe hulle betrap is terwyl hulle na bewering mielies op ’n plaas in die distrik gesteel het. Naasbestaandes het besorg geraak toe hulle nie huis toe kom nie nadat hulle Woensdag (25/2) in die township Manyatseng gesien is.
Die polisie is Vrydag (27/2) om 13:30 na die toneel ontbied. Daar aangekom, het polisiebeamptes afgekom op die oudste broer, wat blykbaar op die toneel aan ’n wond beswyk het.
“Kort daarna het die polisie die jonger broer by ’n rivier naby ’n stortingsterrein opgespoor,” sê ao. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Hy was ernstig beseer en is na ’n plaaslike hospitaal gebring vir noodbehandeling.
Die twee verdagtes is die naweek in hegtenis geneem nadat speurders hulle met die konfrontasie verbind het wat tot die sterfte en daaropvolgende beserings gelei het.

Die twee veiligeidswagte gaan na verwagting Maandag (2/2) in die Ladybrand-landdroshof verskyn. Photo: Freepik
Intussen maak die Vrystaatse provinsiale polisie gereed om Dinsdag (3/3) ’n omvattende media-inligtingsessie oor streeksveiligheid aan te bied ná die nasionale bekendmaking van die derde kwartaal se misdaadsyfers deur Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie.
Die inligtingsessie sal gelei word deur genl.maj. Apaphia Modise, waarnemende provinsiale kommissaris, wat vergesel sal word van Jabu Mbalula, LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, asook ander belanghebbendes.
Tydens die sessie sal die leierskap die provinsiale misdaadsyfers bekend maak vir ’n gedetailleerde blik op die stand van wetstoepassing in die provinsie. Modise wil ook die spesifieke strategiese stappe bespreek om misdaad oor die provinsie heen te bekamp. Lig sal ook gewerp word op onlangse suksesse in hul voortgesette pogings om openbare veiligheid te verseker.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus sm

