Central SA
Beplande kragonderbreking raak talle dele van Bloemfontein─── REFILWE BEKANE 14:30 Tue, 03 Mar 2026
Centlec sal beplande instandhouding aan die elektrisiteitsnetwerk doen, wat talle dele van Bloemfontein sal raak.
Die kragverspreider sê die onderbrekings word beplan vir Sondag (8/3) van 09:00 tot 16:00. Dit sal inwoners van die middestad, Hilton en gedeeltes van Navalpark en Noordhoek raak.
Indien die werk nie Sondag afgehandel word nie, sal dit ’n week later voltooi word.
Centlec se bestuur het belowe om die ou infrastruktuur in Bloemfontein op te gradeer ná die ontploffing van ’n transformator in Bayswater op 23 Februarie.
Malefane Sekoboto, uitvoerende hoof, het voorheen gesê verouderde infrastruktuur is een Centlec se hoofrisiko’s. Op ’n mediakonferensie Donderdag (26/2) het Gregory Nthatisi, Mangaung-burgemeester, lig gewerp op die uitdagings van die energienetwerk.

Inwoners word aangemoedig om in die tydperk alle elektriese installasies as lewend en gevaarlik te beskou. Foto: Centlec
“Wat ek as kritiek kan aanvaar, is ons versuim om betyds te reageer voordat veroudering plaasvind, om oplossings te bied vir sekere uitdagings waarmee ons te kampe het.”
Inwoners word aangemoedig om alle elektriese installasies as lewend en gevaarlik te beskou gedurende die afskakelperiode, omdat kragtoevoer sonder waarskuwing herstel kan word.
As die krag nie binne ’n uur ná die geskeduleerde begintyd onderbreek word nie, word die instandhouding uitgestel. Centlec vra verskoning vir die ongerief van die opknappingswerk.
•Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn:066 487 1427.
OFM Nuus dg

